Soektog ná moord op Noord-Korea-leier se broer

'n Televisieskerm wys foto's van die Noord-Koreaanse leier Kim Jong Un (regs) en sy ouer broer, Kim Jong Nam by Seoul-treinstasie (Foto: AP Photo/Ahn Young-joon)

‘n Televisieskerm wys foto’s van die Noord-Koreaanse leier Kim Jong Un (regs) en sy ouer broer, Kim Jong Nam by Seoul-treinstasie (Foto: AP Photo/Ahn Young-joon)

Die polisie is Woensdag besig om kringtelevisiebeeldmateriaal te deursoek nadat Kim Jong Un se halfbroer by ʼn lughawe in Kuala Lumpur deur ʼn sluipmoordenaar vermoor is.

ʼn Nadoodse ondersoek sal ook gedoen word op Kim Jong Nam, het die polisie gesê. Kim (46) is Maandag by die winkelgedeelte van die lughawe aangeval. Hy het nog nie deur die immigrasie-hek beweeg nie. Hy was op pad na Macau, aan die suidkus van China, het ʼn senior regeringsbeampte op voorwaarde van anonimiteit gesê, as gevolg van die sensitiewe aard van die saak.

Kim het op pad na die hospitaal gesterf en het aan paramedici gesê hy is met ʼn chemiese sproei aangeval.

Abdul Samah Mat, polisiehoof van Selangor, het gesê die polisie is op soek na leidrade in die kringtelevisiebeeldmateriaal. Die lughawe is in Selangor naby Kuala Lumpur geleë.

Kim is vervreemd van sy broer, die Noord-Koreaanse leier. Alhoewel sommige buitestanders aangedui het dat hy moontlik ʼn opvolger kan wees, meen ander dit is onwaarskynlik, omdat Kim buite die land woon insluitend onlangs Macau, Singapoer en Maleisië.

Volgens mediaberigte in Suid-Korea het twee vroue, wat glo agente is van Noord-Korea, Kim aangeval. Hulle het in ʼn taxi gevlug.

Mark Tokola, visepresident van die Korea- ekonomiese instituut in Washington, het gesê hy sou nie verbaas wees as Kim in opdrag van sy broer vermoor is nie, gegewe dat Noord-Koreaanse agente reeds in die verlede probeer het om Kim te vermoor.

“Dit lyk waarskynlik dat die motief vir die moord ʼn volgehoue paranoia is van Kim Jong Un,” het hy gesê. “Alhoewel daar min bewyse is dat Kim Jong Nam saamsweer teen die Noord-Koreaanse leier, bied hy ʼn alternatief vir Noord-Koreane wat van sy broer wil ontslae raak.”

Die moord volg nadat Noord-Korea sy jongste missiellansering gevier het. Kenners ondersoek tans die vordering van die land se missielvermoëns.

Noord-Koreane vier ook die volgende paar dae die verjaarsdag van wyle Kim Jong Il, die twee broers se pa. Hulle het verskillende ma’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Weervoorspelling ·

Ek voorspel eerder die weer as wat hier aan die gebeur is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.