Soektog na ruimtewesens ná dekades gestaak

Foto ter illustrasie. (Foto:
Donald Giannatti/Unsplash.)

Op 31 Maart 2020 sal die wêreld se grootste soektog na lewe op ander planete en die buiteruim tot ʼn einde kom.

Die Universiteit van California, Berkeley het aangekondig dat hulle vanaf die einde van die maand nie nuwe werk aan hul wêreldnetwerk van vrywilligers gaan versprei nie.

SETI@Home is sedert 1999 in gebruik en maak staat op ʼn netwerkkoppeling tussen duisende huisrekenaars van vrywilligers wat help met die analisering van data. In 1995 het die rekenaarwetenskaplike David Gedye die idee gekry om een groot rekenaar te maak vanuit ʼn koppeling van huishoudelike rekenaars deur middel van die internet. Wat toe net ʼn partytjie-idee was, het binne minder as vyf jaar tot stand gekom as SETI@Home. Miljoene mense vanuit omtrent elke land ter wêreld het deelgeneem aan die legendariese wetenskaplike eksperiment.

(Foto: SETI@Home/Berkeley.)

Wat presies doen SETI@Home?

SETI@Home soek na bewyse van radiouitsendings wat moontlik vanaf vreemde wesens afkomstig mag wees.

Die soektog begin by data wat in die agtergrond opgeneem word vanaf twee afsonderlike radioteleskope, naamlik die Arecibo-radioteleskoop en ook die Green Bank Telescope. Die data word opgeneem terwyl ander wetenskaplike programme die teleskope gebruik. Die opgeneemde data word dan gedigitaliseer, gestoor en gestuur na SETI@Home. Die data word dan verwerk tot kleiner segmente van frekwensie en tyd waarna dit geanaliseer word vir seine wat nie toegeskryf kan word aan geraas nie.

SETI@Home gebruik dan verspreidingsprogrammatuur om die segmente data na huisrekenaars te stuur vir verwerking en die analise van die data word dan weer teruggestuur na SETI@Home. Wat dan eens ʼn magtige taak sou wees vir data-analise is nou verwerk tot ʼn redelik hanteerbare een as gevolg van die magdom vrywilligers in die SETI@Home program.

Hoekom stop die program?

Ná meer as twee dekades se dataverwerking en miljoene ure se verwerkte data wat ingesamel is, is daar nou baie meer data as wat die wetenskaplikes weet wat om daarmee te maak.

Wetenskaplikes by die Universiteit van California, Berkeley het aangekondig dat dit tyd is vir hulle om die data wat daar reeds is, te verwerk en te dokumenteer as ʼn wetenskaplike artikel.

“Ons is op ʼn punt van dalende meeropbrengs” het die organiseerders gesê, “basies het ons al die data wat ons nodig het, reeds geanaliseer.”

Tot op hede het die SETI@Home-program geen bewyse gelewer van lewe buite ons sterrestelsel nie. Die mees relevante ontdekking wat gemaak is, is ʼn kandidaatsein wat op 1 September 2004 aangekondig is met die naam Radio Source SHGb02+14a.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie ·

As die slim-Janne net n $5 Bybel gekoop en geglo het sou hulle baie geld gespaar het… Masr noy ja, as jy penosel is dan is daar nie pille of stropie nie!

Bella ·

Hoor hier Hennie, ek het nou so gelag vir jou want dit is so waar!!!hahahahahaha jy het nou my dag gemaak!!!

kolonel ·

Waar in die Bybel staan dit dat ons die enigste skepsels in die heelal is?

Santjie ·

Dis nou interessant!! Hulle soek op verkeerde plek seker – daar was so rukkie terug ‘n program op een van die DSTV -kanale wat die slimmes beweer het dat die maan hol is aan die binnekant en dat die maan tot in sy huidige wentelbaan gesleep of gestoot is deur een of ander “iets” – dalk kruip die wesens dan in die maan weg…. ek sê maar net…

Anel ·

Ek kan maar net lag. Baie geld vir niks doen. Geld wat eerder op mediesenavorsing gebruik kon word.
Lees jou Bybel. Al die antwoorde is daar. Vir eeue al.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.