Soektog na vermiste klimmers eers gestaak

Die gebied waar die drie Franse bergklimmers in die Himalajas vermis geraak het. (Foto: Kailash Helicopter Services / AFP)

Die soektog na drie Franse bergklimmers wat ná ’n sneeustorting in die Himalajas vermis geraak het, is voorlopig weens gure weer gestaak.

Reddingspanne het egter min hoop dat Thomas Arfi, Louis Pachoud en Gabriel Miloche lewend gevind sal word wanneer die soektog later die week hervat word.

Die drie mans het ten tyde van hul verdwyning gepoog om die 6 000 meter hoë Mingbo Eiger-piek naby berg Everest in Nepal te bereik.

Hulle het agt dae laas met enigiemand kontak gemaak.

AFP berig dit lyk egter asof die mans hul tog na die piek laat vaar het en op pad bergaf was toe die sneeustorting hulle getref het.

Dít volg nadat reddingswerkers op sakke en toerusting wat aan die drie klimmers behoort afgekom het.

Volgens Ang Norbu, ʼn sjerpa wat deel is van die reddingspan, kan die gebied waar die mans gesoek word, onder sneeu so diep as wat ʼn vyfverdiepinggebou hoog is begrawe wees.

Norbu sê slegte weer het pogings om die mans op te spoor belemmer en dat die soektog na sowat vier dae hervat sal word.

Die Franse federasie vir Alpe- en bergklubs (FFCAM) het Maandag toegegee dat die kanse om die mans te vind “basies nul” is.

Bergklimmers het onlangs na Nepal begin terugkeer nadat die Covid-19-pandemie die bergklimbedryf maande lank tot stilstand gedwing het.

Kwarantynvereistes in die Himalajas is in September vir ingeënte buitelanders afgeskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Shakespeare ·

Hierdie aventuriers weet waarvoor hulle, hulself inlaat. So ‘n soek ekspedisie is peperduur en word deur die belasting betalers befonds. Gaan klim liewers ‘n boom dan gaan niemand hoef te “hoes” nie. Julle grille raak net te duur vir ander mense.

Herman ·

Jy het n permit nodig om daar te klim. Die Baie geld. Google gerus. In die geld is redings koste ook. So jy betaal inderdaad vir jou eie redding.

Christine ·

Die meeste adrenalien avonturiers sterf agv hul avonture en hulle is voorbereid daarop. Na 8 dae sal hulle waarskynlik nie lewend gevind word nie. So tragies vir hul families.

Yvonne ·

Ek kan my nie in dink dat n mens kies om so n avontuur aan te pak nie….om wat te bewys?????

Wicus ·

Is nogal ‘n ding om met jouself uit te maak. Ek was op Kilimandjaro en sou graag Everest wou aanpak, maar finansies en ouderdom kanselleer daai droom. Ja, jy het ‘n 50/50 kans om die storie na die tyd te kan vertel. Sekerlik gaan dit nie oor bewys nie, dis net daardie iets, hoekom jaag iemand teen 200 km/u op ‘n oop pad, hoekom hardloop iemand ‘n honderd myler, hoekom spring iemand uit ‘n vliegtuig, en en ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.