Soektog na VSA-vrou wat padlangs verdwyn

Die polisie het in Augustus op ʼn voorval van gesinsgeweld gereageer waarby Petito en Laundrie betrokke was. (Foto: Moab City Police Department/AFP)

Amerikaanse owerhede het ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur na ʼn 22-jarige vrou wat tydens ʼn landwye toer saam met haar verloofde onder raaiselagtige omstandighede verdwyn het.

Gabrielle Petito en haar 23-jarige verloofde, Brian Laundrie, het in Julie vanjaar op reis deur Amerika gegaan waar hulle foto’s en video’s van idilliese landskappe op sosiale media gedeel het.

Petito se familie het egter meer as twee weke gelede onraad begin vermoed toe Laundrie alleen met die paartjie se kampeerwa terug is huis toe.

Petito het spoorloos verdwyn en familie en vriende kon nie met haar in aanraking kom nie. Hulle het einde Augustus laas met haar gesels toe die paartjie in die Grand Teton‑ nasionale park in Wyoming was.

Die familie het haar dae later as vermis aangemeld.

Sedert Laundrie terug is by sy huis in North Port, Florida, het hy geweier om inligting aan die polisie te verskaf oor die twee se doen en late.

“Ons deel in die land se frustrasie oor die saak,” het Todd Garrison, North Port se polisiehoof, gesê.

“Twee mense het op ʼn toer gegaan, net een het teruggekeer en wil ons nie bystaan met inligting om haar op te spoor nie.”

Brian Laundrie, Petito se verloofde. (Foto: Moab City Police Department/AFP)

Volgens die polisie in Utah het beamptes in Augustus op ʼn voorval van gesinsgeweld gereageer waarby Petito en Laundrie betrokke was.

Beeldmateriaal wat deur die betrokke beamptes geneem is, wys hoe Petito sê dat sy in ʼn onderonsie met Laundrie betrokke was.

“Ons het heel oggend al gestry. Hy wou my nie by die kampeerwa inlaat nie omdat ek eers moes kalmeer,” het sy vir die beamptes gesê.

Volgens die huilende Petito het sy probeer om die sleutels by Laundrie te kry toe hy haar gestoot en sy hom met haar foon geslaan het.

ʼn Saak is nie teen een van die twee gemaak nie, maar die polisie het aanbeveel dat hulle die aand apart deurbring om af te koel.

Petito se familie het in ʼn verklaring gesê dat hulle deur ʼn moeilike tyd gaan.

“Die een persoon wat ons en die polisie kan help om ons dogter op te spoor, weier om te help.”

Laundrie het intussen ʼn prokureur aangestel, berig BBC.

“In my ervaring vestig die polisie eerste hul aandag op die persoon met wie die vermiste individu in ʼn verhouding was,” het Steve Bertolino, Laundrie se prokureur, gesê.

“Ongeag of hy [Laundrie] enige iets met Petito se verdwyning te doen gehad het, is ons van mening dat enige iets wat hy sê moontlik teen hom gebruik sal word. Daarom is hy aangeraai om nie met die polisie te praat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

‘n Onskuldige verloofde sou nie twee keer dink om polisie en familie te help soek na sy verloofde nie. Inteendeel, hy sou nie sonder haar terugkeer nie. Maak maar die mannetjie praat, hy weet beslis waar sy is

Johan ·

‘n Blinde kan met ‘n stok voel die mannetjie het iets met haar verdwyning te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.