Sokker: Wêreldbeker op ‘n mespunt

Vier van die bestes: Thomas Müller van Duitsland; Arjen Robben van Nederland; David Luiz van Brasilië en Lionel Messi van Argentinië

Vier van die bestes: Thomas Müller van Duitsland; Arjen Robben van Nederland; David Luiz van Brasilië en Lionel Messi van Argentinië

Brasilië speel Dinsdag in Belo Horizonhte teen Duitsland in die halfeindstryd van vanjaar se wêreldbekertoernooi, terwyl Argentinië en Nederland Woensdag in Sao Paulo mekaar die stryd aansê.

Beide Suid-Amerikaanse spanne is voor die halfeindstryd hard deur beserings en ‘n skorsing geslaan, maar dit is veral Brasilië wat die gevaar loop om daardeur teen die Duitsers die spit af te byt.

Duitsland beklee boonop die tweede plek, een beter as Brasilië se derde plek, op die Fifa-ranglys.

Veral die besering aan Neymar da Silva Santos Junior, algemeen net bekend as Neymar, is vir die Brasiliane ‘n groot slag, maar die skorsing van Thiago Silva kan sy span duur te staan kom.

Die Duitsers, daarenteen, is op volle sterkte. Hulle het egter nog nie die wêreld aan die brand gespeel nie, maar het ‘n rekord dat hulle die Schweineflesch und Kartoffelen uit die pan kan trek wanneer dit saak maak.

Hoe nader Brasilië aan die eindstryd kom, hoe minder sal die Brasiliaanse bevolking aanvaar dat hul span in die stof byt.

Ten spyte van beserings aan Angel di Maria en Sergio Aguero word Argentinië as die gunsteling teen die Nederlanders beskou. In Lionel Messi beskik die Argentyne steeds oor waarskynlik die beste speler ter wêreld, terwyl Gonzalo Higuain ook onder die beste spelers ter wêreld tel.

Nederland het, behalwe toe hulle Fifa se voorste span, Spanje, in hul eerste wedstryd behoorlik geslag het, nog nie werklik die verbeelding aangegryp nie. Met Arjen Robben en Robin van Persie in hul geledere kan die span egter ook by enige ander span kers vashou, en hang dit grootliks af van die strategie wat tydens die wedstryd gevolg word.

Bronne: Bleacher Report, Fifa-ranglys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

job jobson ·

Robin, en van Persie is gevaar manne. Argetinië gaan in die stof byt, alhoewel ek groot bewondering vir Messi het en ek likes sy advertensie. Go Netherlands Go.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.