Sosiale media gons ná Eminem knie buig op Super Bowl

Die kletsrymer Eminem het sosiale media aan die gons nadat hy Sondagaand die knie gebuig het tydens die Super Bowl-halftydkonsert in Inglewood, Los Angeles. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Amerikaanse hip-hop-sterre Dr. Dre, Snoop Dogg, Mary J. Blige en Eminem het Sondagaand gesorg vir die halftydvertoning by die jaarlikse Super Bowl-voetbalwedstryd.

Die Super Bowl is vanjaar aangebied by die SoFI-stadion in Inglewood, Kalifornië, waartydens die Los Angeles Rams en die Cincinnati Bengals mekaar die stryd aangesê het. Die Rams het die Bengals met ʼn eindtelling van 23 – 20 geklop.

Kendrick Lamar en 50 Cent het ook gesig gewys op die verhoog, met laasgenoemde wat ʼn weergawe van sy treffer “In da club” gesing het voordat Blige “Family Affair” uitgevoer het.

Blige, wat bekend is vir haar R&B-treffers, het daarna “No More Drama” gesing voordat Lamar sy liedjie “Alright” uitgevoer het.

Dr. Dre en Snoop Dogg het die konsert afgeskop met die treffer “The Next Episode”, voordat hulle hulde gebring het aan die ontslape kletsrymer Tupac Shakur met “California Love”.

Die veld is verander in ʼn reuse-kaart van Los Angeles, waar die National Football League-kampioenskap vanjaar vir die eerste keer in byna drie dekades aangebied is.

Eminem het sy Grammy- en Oscar-bekroonde liedjie “Lose Yourself” gesing voordat hy die knie gebuig het – ʼn gebaar wat ʼn gebaar wat herinner aan die voormalige NFL-quarterback Colin Kaepernick se afsmeek van sosiale geregtigheid.

Die rapsanger se gebaar het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei, met gerugte dat die NFL hom glo wou verhoed om dit te doen.

Eminem, Dr. Dre, Mary J. Blige en Snoop Dogg tree Sondagaand tydens die halftydkonsert by die Super Bowl in Inglewood, Los Angeles, op. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Verteenwoordigers van die NFL het egter dié gerugte ontken en het in ʼn verklaring aan die New York Post gesê spelers buig die knie sedert 2016 sonder enige sanksies en musikale talent sou nie verhoed word deur die NFL om dieselfde te doen nie.

Kaepernick het in 2016 tydens die sing van die nasionale volkslied die knie begin buig uit protes teen polisiewreedheid en rasse-ongeregtigheid, wat jare lank omstredenheid ontlok het.

Dit was die derde agtereenvolgende Super Bowl-konsert wat vervaardig is deur die hip-hop-magnaat Jay-Z se Roc Nation.

Die eerste konsert wat deur Roc Nation aangebied is, was deur Jennifer Lopez en Shakira, waarna ʼn baanbrekerskonsert deur The Weeknd verlede jaar gevolg het.

Die country-ster Mickey Guyton het saam met ʼn gospelkoor die Amerikaanse nasionale volkslied gesing voordat die wedstryd begin het. Jhene Aiko het ook voor die wedstryd die liedjie “America the Beautiful” uitgevoer.

Bekendes soos Jennifer Lopez en haar kêrel, Ben Affleck, die Game of Thrones-ster Sophie Turner en haar man, Joe Jonas, Charlize Theron, die akteur Adam Devine, Ellen Degeneres, Dwayne “The Rock” Johnson, Olivia Rodrigo, Shawn Mendes, Usain Bolt en Lindsay Vonn, en Kanye West het die geleentheid bygewoon.

Bronne: AFP, E! News, The New York Post

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek het eerlikwaar nie eens daarvan geweet tot nou nie. En ek het vriende in Amerika wat voetbal-mal is. Hulle kyk eintlik ook nie eens meer Superbowl nie oor hoe dit meer oor Black Lives Matter en homoseksualiteit gaan as oor voetbal.

Vonkprop ·

Lyk my al die sterre begin nou swak knieë ontwikkel. Seker die ouderdom?

Blikkantien ·

Ek sal betaal om nie daardie vertoning te hoef bywoon nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.