Spa-skietery: Doodstraf gevra

Robert Aaron Long (Foto: Crisp County Sheriff’s Office/AFP Photo)

Amerikaanse aanklaers beoog om aanklagte van haatmisdaad aanhangig te maak en die doodstraf te versoek in die saak teen die jong man wat beskuldig word van die moord op agt mense by drie spa’s in die Amerikaanse deelstaat Georgia.

Ses van die agt slagoffers was vroue van Asiese oorsprong.

Robert Aaron Long (22) is Dinsdag formeel aangekla van die moord op vier vroue tydens ʼn aanval op twee spa’s in die stad Atlanta.

Long staan ook tereg op afsonderlike aanklagte van moord wat verband hou met ʼn aanval wat nóg vier lewens op dieselfde dag in Maart by ʼn spa in Cherokee County geëis het.

Aanklaers voer nou aan Long het sy slagoffers vanweë hul ras en geslag geteiken.

Dít nadat die aanvalle vroeër vanjaar verdere vrees in die Asies-Amerikaanse bevolking ingeboesem het te midde van ʼn duidelike toename in haatmisdade teenoor mense van Asiese herkoms. Die misdade is tydens die Covid-19-pandemie aangevuur deur gesprekke oor die sogenaamde “Chinese virus”.

‘n Polisiebeampte staan buite die Gold Massage in Atlanta waar ‘n skieter in Maart losgebrand het. (Foto: Elijah Nouvelage / AFP)

Die distriksadvokaat Fani Willis is nou van plan om die doodstraf vir Long te versoek. Willis beoog ook om ʼn klag wat verband hou met haatmisdade teen Long, ʼn wit man, in te dien.

Willis voer in hofstukke aan Long het sy slagoffers gekies op grond van hul werklike en vermeende ras, geslag en herkoms.

Maroela Media het vroeër berig Long ontken volgens die polisie ʼn rassistiese motief vir die aanvalle.

“[Long] het klaarblyklik ʼn probleem, wat hy as ʼn seksverslawing beskou,” het kapt. Jay Baker van die Cherokee County-kantoor in Maart gesê.

Long het ná die aanvalle aan polisiebeamptes gesê hy het gereeld masseersalonne besoek en die aanvalle uitgevoer as ʼn soort weerwraak “teen ʼn versoeking wat hy wou uitskakel”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Phillip ·

Ek sal se gee hom die doodstraf hy vir dien dit . Moet maar betaal vir sy gevolge en klaar

Misky ·

Ek stem en hy verdien die doodstraf. Sal ‘n sterk boodskap stuur aan al die ander wat sulke dade beplan

Jean ·

Nie as jy na Amerika se geskiedenis kyk van sulke skiet voorvalle

Yolandie ·

Ek gooi sommer ‘n klip in die bos hier…..dit lyk die jong mannetjie het maar net ‘n probleem met “spa’s of spa werker’s “gehad as ek die berig nou reg lees. Met dit gesê hy het die dood van baie veroorsaak en hy moet maar sy straf vat. Amerika wil nou alles op ‘n streep as haatmisdade bestempel wyl dit eintlik niks daarmee te doen het nie. Seker te doen met ou Joe en Kamala wat daar die septer swaai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.