Spa-skietery: Verdagte van agt moorde aangekla

Robert Aaron Long (Foto: Crisp County Sheriff’s Office/AFP Photo)

ʼn 21-jarige verdagte, wat as ʼn seksverslaafde beskryf word, is Woensdag aangekla van die moord op agt persone in spa’s in Atlanta, VSA. Die drie skietvoorvalle het die Asies-Amerikaanse gemeenskap geruk.

Die polisie sê Robert Aaron Long ontken ʼn rassistiese motief vir Dinsdag se aanvalle – waar ses van die slagoffers vroue van Asiese oorsprong is. Hulle het egter nog nie bepaal waarom Long op ʼn skiettog gegaan het nie.

“Die verdagte het aanspreeklikheid aanvaar vir die skietery,” het kapt. Jay Baker van die Cherokee County-kantoor tydens ʼn perskonferensie gesê. Die verdagte het “klaarblyklik ʼn probleem, wat hy as ʼn seksverslawing beskou,” het Baker bygevoeg.

Long het aan polisiebeamptes gesê hy het gereeld masseersalonne besoek en die aanvalle geloods as ʼn tipe weerwraak “teen ʼn versoeking vir hom wat hy wou elimineer”.

Alhoewel ʼn ondersoek oor die motief voortduur, werp die aanvalle lig op ʼn toename in geweld teen Asies-Amerikaners – wat aangevuur is tydens die Covid-19-pandemie deur gesprekke oor die “Chinese virus”.

“Rasgebaseerde geweld moet ontbloot word vir wat dit is,” het kongresvrou Marilyn Strickland – wat half-Koreaans is – Woensdag gesê. “Ons moet ophou verskoning maak of dit verbloem as iets soos ekonomiese angs of seksverslawing.”

Die kollig val ook op die polisie wat die ondersoek lei – veral op kapt. Baker se opmerking dat die vermeende skieter “ʼn slegte dag” gehad het.

ʼn Plasing van Baker se privaat Facebook-rekening wat deur Buzzfeed gedeel is, word ook ondersoek. In die plasing bemark hy T-hemde waar Covid-19 as “ʼn ingevoerde virus uit China” beskryf word.

“Ons het so baie lewens die afgelope jaar verloor,” het Sam Park, ʼn plaaslike verteenwoordiger van die Asies-Amerikaanse gemeenskap, aan AFP in Atlanta gesê. “Ons het rassisme en ʼn toename in geweld op Asies-Amerikaners gesien. Hulle word die sondebokke gemaak weens die pandemie.”

Pres. Joe Biden, wat verlede week die toename in anti-Asiese geweld veroordeel het, het dit weereens “baie kommerwekkend” genoem, terwyl hy benadruk dat die motief vir die Atlanta-skietvoorvalle nog nie bevestig is nie.

Maroela Media het vroeër berig die skietery het begin met ʼn aanval op Young’s Asian Massage in Acworth. Vier slagoffers is dood en ʼn man is gewond. Nog vier vroue is dood in aanvalle daarna op twee nabygeleë spa’s in die noordooste van Atlanta.

Owerhede het Long in hegtenis geneem ná sy foon se ligging nagespoor is sowat 240 km buite Atlanta.

Ná hy in hegtenis geneem is, het hy aan beamptes gesê hy was op pad na Florida waar hy soortgelyke dade wou pleeg, het Baker gesê. “Long wou ʼn tipe porno-bedryf teiken.”

Long se ouers het self die polisie gekontak ná sy foto Dinsdag vrygestel is as verdagte. Hulle het gehelp om hom uit te ken.

Pizza, guns, drums, music, family, and God. This pretty much sums up my life. It’s a pretty good life,” lui ʼn Instagram-rekening wat vermoedelik aan Long behoort, het die Daily Beast berig. Die rekening is intussen gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ES ·

Mens kan sien die outjie het ernstige sielkundige probleme. Ongelukkig, as hy skuldig bevind word, is dit die doodstraf vir hom. Georgia het nog die doodstraf in werking.

Dit moet net so verskriklik vir sy familie wees soos wat dit vir die slagoffers se familie is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.