SpaceX -prototipe ontplof

‘n Skermgreep van die ontploffing. (Foto: Nasa/Twitter)

ʼn Vuurpylprototipe deur SpaceX, Elon Musk se ruimtevaartonderneming, het Vrydag by die maatskappy se toetsfasiliteit in Boca Chica in die Amerikaanse deelstaat Texas ontplof.

Dié ontploffing het egter geen invloed op die lansering van SpaceX se ruimtekapsule Crew Dragon nie. Die lansering van die ruimtekapsule met twee Nasa-ruimtevaarders onderweg na die Internasionale Ruimtestasie (ISS) aan boord, sal na verwagting vandag (Saterdag) plaasvind.

Die lansering van Crew Dragon is geskeduleer om 21:22 (Suid-Afrikaanse tyd) met Nasa-ruimtevaarders Doug Hurley en Bob Behnken aan boord, plaas te vind.

Maroela Media het vroeër berig die lansering van Crew Dragon is Woensdagaand etlike minute voor dié ruimtevlug sou vertrek, uitgestel weens die onstuimige weerstoestande.

Ruimtevaarders Bob Behnken en Doug Hurley (Foto: SpaceX via Twitter)

SpaceX toets tans ’n nuwe ontwerp vir ’n toekomstige vaartuig genaamd Starship. Starship word ontwerp om mense en 100 ton vrag na die maan en Mars te vervoer. Die nuutste model is egter in die ontploffing vernietig.

Niemand is in die ontploffing beseer nie. Die toetsfasiliteit by Boca Chica is ook geskei van SpaceX se kommersiële bemanningsaktiwiteite saam met Nasa.

Bykomende bronne: The Guardian, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

Daar is sekerlik mense wat vir hom gaan vertel hy kan nou maan toe vlieg , sonder ‘n kapsule .

JohanR ·

Dink nou jy staan daar langs die baan en kyk, en daar blaas $100 miljoen op in klein stukkies!

Pierreli ·

Ek wonder of die ‘ruimtevaarders” Bob Behnken en Doug Hurley ook wonder of dit dalk weer kan gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.