Span sal sonder ‘Chinese toesig’ koronavirus-oorsprong ondersoek – WGO

Michael Ryan van die WGO. (Foto: Fabrice Coffrini, AFP)

ʼn Internasionale span kundiges wat volgende maand na China sal reis om die oorsprong van die koronavirus te ondersoek, sal sonder Chinese toesig hul ondersoek uitvoer.

“Die doel van hierdie ondersoek is om na die oorsprong van die eerste Covid-19-gevalle te reis, daarom sal hulle ook Wuhan besoek,” het Michael Ryan, uitvoerende direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se program vir gesondheidsnoodgevalle, gesê.

“Die internasionale span kundiges sal natuurlik saam met ons Chinese kollegas werk, maar hulle sal nie onder Chinese toesig wees nie. Ons sal optree soos wat ons in enige ander lidstaat sou en sal die nodige ondersteuning aan die span bied om die oorsprong en bron van hierdie virus te bepaal.”

Die WGO werk al maande lank daaraan om die span van tien internasionale kundiges, onder wie epidemioloë en spesialiste vir dieregesondheid, na China te stuur.

Die VN-gesondheidsagentskap het reeds in Julie vanjaar ʼn span na Beijing gestuur om die grondslag te lê vir die internasionale ondersoek.

ʼn Jaar ná die Covid-19-pandemie, wat reeds byna 1,7 miljoen mense se lewens geëis het en wêreldwyd byna 75 miljoen mense besmet het, bly die vraag onbeantwoord oor waar die virus vandaan gekom het en hoe dit van diere na mense oorgedra is.

Wetenskaplikes het aanvanklik geglo dat die virus van diere na mense toe versprei het deur ʼn mark in Wuhan wat eksotiese vleis verkoop. Maar kenners meen nou dat die mark dalk nie die oorsprong van die pandemie was nie, maar eerder die plek was waar dit opgevlam het.

Wetenskaplikes is ook van mening dat die virus nie oorspronklik deur vlermuise na mense toe versprei is nie, maar dat dit deur ʼn onbekende tussenganger, waarskynlik ʼn ander dier, oorgedra is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.