Spanje stuit verkope van moontlike Caravaggio-skildery

Die skildery wat in Ansorena-afslaers se katalogus verskyn het (Foto: Ansorena.com)

Spaanse owerhede het vinnig reageer om Donderdag die veiling van ʼn 17de eeuse Bybelse olieskildery in Madrid te voorkom, omdat dit vermoedelik ʼn verlore meesterstuk kan wees deur die Renaissance-kunstenaar, Caravaggio.

Die skildery, “Gekroon met dorings”, wys Jesus net voor sy kruisiging en sou Donderdag deur die Ansorena-afslaers verkoop word. In die katalogus word die stuk aangedui as “die entourage van [Spaanse kunstenaar] José de Ribera” met ʼn openingsbod van €1 500 (sowat R26 000).

Net ure voor die onder die hamer kon kom, het kultguurminister José Manuel Rodriguez Uribes egter gesê die skildery is “nie vir uitvoer nie verklaar … vermoedelik omdat dit ʼn Caravaggio mag wees”. “Ons sal sien of dit wel ʼn Caravaggio is,” het hy aan verslaggewers gesê en bygevoeg die besluit om die stuk uit die veiling te onttrek is “binne ure” geneem.

“Die skildery is waardevol. Ons hoop dit is ʼn Caravaggio,” het hy gesê.

Ansorena het bevestig dat dit nie meer Donderdag onder die hamer sal kom nie en gesê die ministerie se besluit beteken dit kan nie uit Spanje verwyder word nie. “Wat betref wie dit geskilder het, is verskillende kenners besig om die werk te bestudeer. Op die oomblik het ons nie verdere inligting nie,” het ʼn woordvoerder aan AFP gesê.

ʼn Italiaanse kenner het egter gesê dit is duidelik die werk van die Renaissance-meester. “Dis hy,” het Maria Cristina Terzaghi, ʼn kunsgeskiedeniskenner aan die Roma Tre-universiteit, aan Italië se La Repubblica-koerant gesê. Volgens haar het die skilderdoek ʼn “diep verband” met die werk wat Caravaggio aan die begin van sy Neapolitaanse periode gedoen het.

In die skildery is die kleed wat Jesus dra “dieselfde rooi as [die kleed van] Salome” in Caravaggio se skildery, “Salome met die kop van Johannes die Doper” by Madrid se Prado-museum.

Die beeld van Pontius Pilatus in die voorgrond “herinner ook aan die gemartelde Petrus in “Rosekransmadonna” by Wene se Kunsthistorisches-museum, het sy bygevoeg.

Spanje se kultuurministerie is Dinsdag aanvanklik in kennis gestel, het ʼn bron in die minister se kantoor gesê, en aangedui Prado-museum was met hulle in kontak om te sê “daar is voldoende dokumentêre en stilistiese bewyse om die skildery te oorweeg as ʼn moontlike oorspronklike werk deur Caravaggio”.

Ná noodgesprekke is die skildery uit die veiling onttrek en daar is verklaar dat die “nie uitgevoer mag word nie”.

“Dit is nou noodsaaklik om ʼn in-diepte tegniese en wetenskaplike studie van die skildery te doen en akademies te debatteer of dit wel ʼn Caravaggio is en aanvaarbaar is vir die wetenskaplike gemeenskap,” het die bron bygevoeg.

Die ministerie verwag ook van Madrid se streeksowerhede om dit te verklaar as ʼn werk van kulturele belang om dit verder onder wetgewing, wat Spanje se erfenis bestuur, te bewaar.

“Ons het die Madrid-regering versoek om dit as ʼn bate te verklaar van kulturele belang en ʼn dubbele waarborg te lewer dat ons kan seker maak die skildery bly in Spanje,” het die minister aan verslaggewers gesê.

ʼn Verlore meesterstuk van Caravaggio, getiteld “Judith en Holofernes” is in 2014 onder ʼn ou matras in ʼn solder in die Franse stad Toulouse opgespoor. Die Bybelse-styl skilderdoek het ʼn mooi Joodse weduwee uitgebeeld wat ʼn slapende Assiriese generaal onthoof. Met ʼn geraamde waarde van sowat $170 miljoen sou die skildery in Junie 2019 onder die hamer gekom het, maar ʼn anonieme buitelandse koper het dit twee dae voor die veiling gekoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
FM

In hierdie onsekere tyd wat als sommer binne ‘n oogwink verander is dit van groot belang dat mense nog waarde heg aan kuns skatte.

Ek dink aan ons eie Pierneef wat kort gelede ook gevind en bewaar word.

Jan Seerot

Net ure voor die onder die hamer kon kom, het kultguurminister José Manuel Rodriguez Uribes egter gesê die skildery is “nie vir uitvoer.

Meeste ministers is maar ongure karakters by verstek en hierdie kêrel is boonop nog deel van ‘n kultus ook.