Spanje verbied nou ook reisigers van SA

(Argieffoto)

Die Spaanse regering het Dinsdag aangekondig dat hy beperkings gaan instel met betrekking tot reisigers van Suid-Afrika en Brasilië om die verspreiding van die nuwe Covid-19-variant te probeer bekamp.

Maria Jesus Montero, regeringswoordvoerder, het tydens ʼn nuuskonferensie gesê slegs wettige inwoners of burgers van Spanje en die buurstaat Andorra sal op reis van Brasilië en Suid-Afrika in die land toegelaat word.

“Passasiers wat in Spanje vertoef terwyl hulle op pad is na ʼn ander land, sal toegelaat word solank hulle minder as 24 uur vertoef en nie die lughawe verlaat nie,” het Montero gesê.

Hierdie nuwe reëls tree vandag (Woensdag) in werking en sal vir die volgende twee weke van krag wees, maar kan verleng word soos die pandemie ontwikkel.

Nadat die nuwe meer aansteeklike variant verlede jaar in Brittanje ontdek is, het Madrid ook sedert einde Desember reisigers van Brittanje verbied.

Hierdie nuwe variant is een van vele virusvariante wat sedert die begin van die pandemie geïdentifiseer is.

ʼn Ander variant, bekend as E484K, wat ook aanvanklik in Suid-Afrika en by daaropvolgende variante in Brasilië en Japan opgespoor is, het onder navorsers groter kommer veroorsaak oor die moontlike impak daarvan op mense se immuniteit.

Spanje is swaar getref deur die pandemie en het tot dusver byna 60 000 sterftes aangemeld. Meer as 2,8 miljoen mense het reeds positief vir die virus getoets, insluitend 350 gevalle vir die variant wat in Brittanje opgespoor is.

Brittanje het tans die vyfde meeste bevestigde Covid-19-gevalle wêreldwyd en die syfer staan tans op 3,85 miljoen gevalle.

Die VSA het die meeste positiewe Covid-19-gevalle wêreldwyd met meer as 27,03 miljoen gevalle, gevolg deur Indië met 10,88 miljoen gevalle. Brasilië het met 9,29 miljoen die derde meeste positiewe gevalle.

Rusland wat vierde op die lys is met 3,9 miljoen positiewe gevalle het in die afgelope 24 uur altesaam 16 474 nuwe gevalle en 526 sterftes aangemeld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Baardman ·

Hiers nog n gevaarlike variant in SA. Hulle noem dit die ANC2021 variant

Alet ·

Tot hulle agterkom daar is ander ding wat saamkom. Dan gaan hulle nie worry of die ANC hulle buddies is nie.

Ou Baardbek ·

As Indië dan sulke goeie teenmiddels vervaardig, hoe is dit moontlik dat hulle self nog nie “kudde-immuniteit” ontwikkel het nie? Toets hulle dalk eers hul teenmiddel op ander lande se “proefkonyne”??

Anti-Verkramp ·

Hulle het minder as 3 weke gelede eers begin inent. Wat wel verseker is, is dat ander middels onsuksesvol was om die virus hok te slaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.