Spanje verdeeld oor vierdag-werksweek

Argieffoto (Foto: StartupStockPhotos/Pixabay)

Spanje se koalisieregering is verdeeld oor ʼn voorstel om die werksweek na vier dae te verminder om hoë werkloosheid te takel wat deur die koronavirus-pandemie veroorsaak is.

Dié maatreël word ondersteun deur die verlinkse party Podemos, die junior vennoot in die sosialistiese eerste minister Pedro Sanchez se minderheidsregering wat al sedert Januarie die eurosone se vierde grootste ekonomie bestuur.

Adjunk- eerste minister Pablo Iglesias, leier van Podemos, het vroeër vandeesmaand aangekondig die ministerie van arbeid ondersoek die moontlikheid om werksure te verminder en gesê “dit kan ongetwyfeld werkskepping verhoog”.

Hy het tydens ʼn televisieonderhoud op die voorstel reageer wat deur ʼn verlinkse wetmaker ingedien is en aanbeveel dat die werksweek na 32 ure verminder word van die huidige 40 uur lange werksweek.

“Werkstyd vereis ʼn nuwe konsep wat durf om die wette en gebruike van die werkende wêreld uit te daag,” het arbeidsminister Yolanda Diaz, ook van Podemos, op Twitter bygevoeg.

Die voorstel kom terwyl die Nieu-Seelandse tak van Unilever vroeër vandeesmaand met ʼn proefperiode van ʼn vierdag-werksweek vir sy personeel in die land begin het.

Duitsland se magtige IG Metall-vakbond het ook al die idee voorgestel.

Sosialiste in Spanje, die dominante party in die land se eerste koalisieregering sedert sy terugkeer na demokrasie in die laat 1970’s, is egter huiwerig vir die voorstel.

Maria Jesus Montero, minister van begroting, het gesê die regering “moenie fokus verloor” van sy hoofprioriteit nie – om “terug te keer na die groeikoers wat met die aanvang van die pandemie beleef is”.

Spanje se ekonomie, wat hoofsaaklik op toerisme staatmaak, het in 2013, ná ʼn vyf jaar slakkegang, deurgaans beter presteer as die grootste deel van Europa.

Die Internasionale Monetêrefonds (IMF) het egter daarop gewys dat die land se BBP met 12,8% gekrimp het – die land is dus, onder die wêreld se mees gevorderde ekonomieë, die swaarste getref.

“Ek dink nie die kwessie is ʼn prioriteit vir Spanje nie, gegewe die huidige vlakke van produktiwiteit en mededingendheid,” het Jose Luis Escriva, minister van maatskaplike sekerheid, bygevoeg, met verwysing na produktiwiteitsvlakke wat baie laer is as die Europese gemiddeld, gedeeltelik weens ʼn groot getal klein ondernemings. “Ek dink nie daar is ruimte daarvoor nie.”

Spanje se tweede grootse vakbondkonfederasie, die UGT, wat naby staan aan die sosialiste, het al lankal ʼn vierdag-werksweek versoek, met ʼn vyfde dag wat toegewy word aan professionele ontwikkeling. “Ons sal hierdeur en mededingendheid en lewensgehalte bevorder, en werk skep,” het UGT-leier Pepe Alvarez gesê.

Spanje se grootste vakbond, Comisiones Obreras, ondersteun ook die vierdag-werksweek, maar sê hy verkies om eerder daarop te fokus om die minimumloon te verhoog en Spanje se arbeidskode te hervorm, in sy gesprekke met die regering en ondernemings.

Die voorstel vir ʼn korter werksweek is ʼn frustrasie vir werkgewers. “Met alles wat ons moet hanteer is dit ʼn lugkasteel,” het Lorenzo Amor, adjunkpresident van CEOE, ʼn instansie wat Spanje se sakebelange verteenwoordig, op Twitter gesê.

Die goewerneur van die Bank van Spanje, Pablo Hernandez de Cos, het gewaarsku die maatreëls “moet baie noukeurig analiseer word”. “As iemand vier dae werk in plaas van vyf, wat gebeur met hulle salaris?” wou hy weet en verduidelik dat die impak wat ʼn korter werksweek op werkskepping sal hê, sal afhang van die impak op arbeidskoste.

Diaz, die arbeidsminister, het erken die voorstel is tans “te streng” en “ondoeltreffend vir sekere bedrywe”. “Die sleutelvraag is om eerder te beweeg na groter interne buigsaamheid binne maatskappye, en om elke werknemer toe te laat om by sy eie werkstye aan te pas,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.