Spanning oor Oekraïne: VSA ontplooi troepe

Oekraïnse veiligheidsmagte (Foto: Sergey BOBOK/AFP)

Die VSA het 3 000 troepe ontplooi om die magte van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) in Oos-Europa te versterk te midde van vrese vir ’n inval in Oekraïne.

Met Rusland wat weier om 100 000 troepe, wat op die grense van Oekraïne ontplooi is, terug te trek, word 1 000 Amerikaanse soldate in Duitsland na Roemenië gestuur, en nog 2 000 wat in die Verenigde State gestasioneer is, word na Duitsland en Pole gevlieg.

“Solank as wat [president Wladimir Poetin] aggressief optree, gaan ons seker maak dat ons ons Navo-bondgenote in Oos-Europa wys dat ons daar is,” het president Joe Biden gesê nadat die ontplooiings aangekondig is.

In reaksie hierop het Alexander Grushko, Russiese adjunkminister van buitelandse sake, gesê dié stap sal dit moeiliker maak vir  ’n kompromie tussen die twee kante. Hy het die Amerikaanse ontplooiings beskryf as “vernietigende stappe, wat militêre spanning verhoog en die ruimte vir politieke besluite verminder”.

Westerse moondhede is besig met intense diplomatieke pogings, tesame met die dreigement van sanksies teen Poetin se binnekring, oor wat hul beskou as ’n dreigende inval in Oekraïne te wees, ondanks sterk ontkennings van Moskou.

Olaf Scholz, Duitsland se kanselier, het Woensdag aangekondig dat hy binnekort na Moskou sal reis om die krisis te bespreek, terwyl Frankryk se president Emmanuel Macron gesê het ’n soortgelyke reis kan op die kaarte wees, afhangende van komende samesprekings met ander wêreldleiers.

Biden en Macron het Woensdag tydens ’n telefoonoproep onderneem om hul reaksie op die krisis te koördineer, terwyl die Franse leier se kantoor gesê het hy sal Donderdagaand weer met Poetin praat.

John Kirby, woordvoerder van die Pentagon, het beklemtoon dat die ontplooiing van Amerikaanse troepe ten doel het om toewyding aan die Navo-alliansie te toon, en dat geen Amerikaanse soldate gestuur sal word om in Oekraïne, wat nie ’n Navo-lid is nie, te veg nie.

Maar dit is onwaarskynlik dat dit Poetin sal oortuig. Hy beskuldig die VSA en Navo daarvan dat hulle Rusland probeer “inperk” deur troepe en strategiese wapens op sy grens te plaas.

“Oekraïne self is net ’n instrument om hierdie doel te bereik,” het Poetin gesê. Hy het die versekering geëis dat Oekraïne, ’n voormalige Sowjet-republiek, nie by Navo sal aansluit nie.

Rusland wil ook hê dat Navo en die VSA die ontplooiing van missielstelsels naby Rusland se grense moet laat vaar asook Navo-magte in Oos-Europa moet onttrek. Die Kremlin beweer dat hy China se steun in die stryd het en dat Poetin Vrydag met president Xi Jinping in Beijing sal ontmoet.

Mark Rutte, Nederlandse premier, was die jongste Navo-leier om Kiëf te besoek ter ondersteuning van Oekraïense president Volodymyr Zelensky.

Volodymyr Zelensky (Foto: Sergei SUPINSKY/AFP)

Ná die samesprekings het Zelensky gesê Oekraïne is “slegs op vrede” gefokus, maar hy het daarop aangedring dat hy die reg het om homself te verdedig.

Rutte het gesê dit is “noodsaaklik vir dialoog om voort te gaan” tussen Rusland en die ander spelers.

Die Withuis het Woensdag gesê hy sal nie meer na ’n Russiese inval in Oekraïne as “dreigend” verwys nie en het verduidelik dat die woord impliseer dat Poetin reeds ’n besluit geneem het om aan te val. Jen Psaki, perssekretaris, se gebruik van die woord verlede week het kritiek uit Oekraïne ontlok.

Spanning met die Weste is verder vererger deur planne vir gesamentlike militêre oefeninge tussen Rusland en die naburige Wit-Rusland, met Washington wat beweer Moskou maak gereed om 30 000 troepe te stuur.

Videomateriaal wat deur die Russiese ministerie van verdediging vrygestel is, wys tenks wat oor sneeuvelde in Wit-Rusland jaag en gevegshelikopters in die lug met die twee lande wat gereed maak vir die oefeninge.

Navo het die ontplooiing van Amerikaanse troepe verwelkom. Jens Stoltenberg, sekretaris-generaal, het gesê die alliansie “sal alles doen wat nodig is om alle bondgenote te beskerm en te verdedig”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vossie

Duidelike gevaartekens vir oorlog.

Charles

Oorlogs dromme?

Hennie

Lyk my al die komministe praat dieselfde taal… Nooit is iets hulle skuld nie! Ruslan, as die aggressors in hierdie verhaal beskuldig NAVO van aggressie… Nes ons palukas in die ANC!

marius

Hierdie spul kan nie hul eie voorstoep skoon vee nie maar meng altyd in ,en waneer hul pakslae kry gil hulle soos kleuters in ‘n speelgoed winkel .

Ian

Vir watter rede anders as dat jy wil n land binne val, sal jy n 100000 troepe ontplooi met swaar wapens? Om jou agenda te verskuil wys jy nou vingers vir almal wat wil help verdedig in dit waarmee jy besig is.