‘Spider-Man’ bly tops by die loket

Die Engelse akteur Tom Holland tydens die première van ‘Spider-Man: No way home’ by die Regency Village and Bruin-teater in Los Angeles, Kalifornië, op 13 Desember 2021. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Spider-Man: No way home het weer die afgelope naweek die Noord-Amerikaanse loket oorheers met ʼn geraamde inkomste van $52,7 miljoen (sowat R840 miljoen) en het die $600 miljoen- (sowat R10 miljard-) kerf oorgesteek in die derde week ná die fliek se uitreiking, volgens Exhibitor Relations.

Dié sterk uitslae vir Sony se superheld-opvolgfliek, wat verlede week die $1 miljard- (sowat R16 miljard-) kerf wêreldwyd oorgesteek het, het nuwe lewe in die rolprentbedryf, wat gesteier het weens die Covid-19-pandemie, geblaas.

Die Britse akteur Tom Holland is te sien in die hoofrol van dié Marvel-treffer.

Terwyl gesinne terugkeer na die rolprentteaters, het Universal se geanimeerde opvolgfliek Sing 2 die naweek ʼn stewige bedrag van $19,6 miljoen (sowat R310 miljoen) ingeoes en is dié fliek, met stemme van bekendes soos Matthew McConaughey, Reese Witherspoon, Scarlett Johansson en U2-voorsanger Bono, tans in die tweede posisie wat naweekverkope betref.

In die derde plek is 20th Century se rolprent The King’s Man, wat $4,5 miljoen (sowat R72 miljoen) ingeoes het. Ralph Fiennes, Gemma Arterton, Rhys Ifans en Matthew Goode is in dié voorvervolgfliek van Kingsman te sien.

American Underdog van Lionsgate is in die vierde plek, met ʼn naweekinkomste van $4,1 miljoen (sowat R65 miljoen). Die fliek, met Zachary Levi, vertel die ware verhaal van Kurt Warner, wat ʼn nasionale Amerikaanse voetbalspeler geword het nadat hy jare lank as pakker in kruidenierswarewinkels vir ʼn inkomste gewerk het.

In die vyfde posisie is The Matrix: Resurrections, deur Warner Bros, met ʼn inkomste van slegs $3,8 miljoen (sowat R61 miljoen). Variety het die fliek se prestasie by die loket as “rampspoedig” bestempel, gegewe die fliek se produksiebegroting van $190 miljoen (sowat R3 miljard).

Die res van die toptien flieks die afgelope naweek was:

West Side Story met ʼn inkomste van $2,1 miljoen (sowat R33 miljoen)

Ghostbusters: Afterlife met ʼn inkomste van $1,4 miljoen (sowat R22 miljoen)

Licorice Pizza met ʼn inkomste van $1,25 miljoen (sowat R20 miljoen)

A Journal for Jordan met ʼn inkomste van $1,2 miljoen (sowat R19 miljoen)

Encanto met ʼn inkomste van $1,1 miljoen (sowat R17 miljoen)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.