Spotify sny rieme dunner; verloor nóg werkers

(Foto: Unsplash)

Die musiekstromingsreus Spotify gaan sowat 17% van sy personeel aflê ondanks ʼn positiewe groei in die maatskappy se prestasie en finansies.

Volgens die maatskappy is dié besluit geneem om uitgawes “drasties te besnoei” te midde van laer as verwagte ekonomiese groei. Die besluit raak soveel as 1 500 werknemers.

Dit is Spotify se derde afleggingsaankondiging vanjaar en volg kort ná ʼn kwartaallikse nettowins van €65 miljoen (meer as R1,3 miljard) in Oktober vanjaar, teenoor ʼn verlies van €166 miljoen (meer as R3,3 miljard) in dieselfde tydperk verlede jaar.

Spotify se gebruikers het in die derde kwartaal ook met 26% toegeneem, wat sy aantal aktiewe gebruikers op 574 miljoen te staan bring.

Die afleggings is die jongste in ʼn string afleggings in die tegnologiebedryf waar tienduisende mense sedert die Covid-19-pandemie in die pad gesteek is.

“Ek besef dat ʼn vermindering van dié aard [17%] vir baie mense verbasend groot sal voel gegewe die onlangse positiewe inkomsteverslag en ons prestasie,” het Spotify se uitvoerende hoof, Daniel Ek, in ʼn brief aan werknemers gesê.

AFP het dié brief onder oë gehad.

Ek verduidelik dat die Sweedse maatskappy in 2020 en 2021 die geleentheid aangegryp het wat deur laer kapitaalkoste moontlik gemaak is en beduidend in die uitbreiding van die span, inhoud en bemarking belê het.

“Ons bevind onsself egter nou in ʼn heel ander omgewing.”

Volgens Ek was ekonomiese groei “dramaties stadiger” terwyl kapitaal beduidend duurder geword het.

“Ondanks ons pogings om koste die afgelope jaar te besnoei is die kostestruktuur van waar ons behoort te wees steeds te groot.”

Ek sê Spotify, wat op New York se aandelemark genoteer is, was in 2022 en 2023 “meer produktief, maar minder doeltreffend”.

“Ons moet albei wees,” het hy benadruk.

Ek sê die maatskappy het te veel werknemers wat op ondersteuningswerk gefokus is, in plaas van mense wat aan geleenthede werk wat ʼn daadwerklike impak het.

“’n Kleiner struktuur sal ons in staat stel om ons wins meer strategies in die maatskappy terug te ploeg.”

Beleggings

Spotify het sedert 2006 enorme beleggings in verskeie markte gemaak om groei te bewerkstellig.

Die maatskappy het al meer as $1 miljard (meer as R18 miljard) net in podsendings belê.

In 2017 het Spotify ongeveer 3 000 werknemers gehad, wat teen die einde van 2022 tot soveel as 9 800 aangegroei het.

Die maatskappy het egter nog nooit ʼn voljaar-nettowins getoon nie – slegs kwartaallikse winste. Dit ten spyte van sy reusesukses in die musiekbedryf.

Betalende gebruikers het in die derde kwartaal met 16% toegeneem (ondanks prysverhogings), wat die grootse deel ($226 miljoen) van die maatskappy se omset beslaan.

Spotify sal na verwagting die 600 miljoen-gebruikerskerf teen die einde van die jaar verbysteek.

Die jongste afleggingsproses is die derde hierdie jaar by Spotify. In Januarie is sowat 600 mense afgelê en in Junie nog 200, spesifiek in die podsendingafdeling.

Ek sê die maatskappy het oorweeg om kleiner afleggings in 2024 en 2025 te maak, maar toe besluit dat ’n 17%-besnoeiing nou nodig is om sy doelwitte te bereik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.