Springsteen beboet oor twee tequila-sopies

Die rockster Bruce Springsteen tydens ‘n konsert in 2016. (Foto: Bertrand Guy/AFP)

Die rockster Bruce Springsteen is met $540 – sowat R7 800 – beboet nadat hy skuldig gepleit het dat hy alkohol gebruik het in ʼn ontspanningsgebied waar dit verbode is.

Die 71-jarige Springsteen is in November verlede jaar in hegtenis geneem nadat hy, volgens die hofverrigtinge wat via Zoom aangehoor is, “twee klein sopies tequila” in New Jersey se Gateway- nasionale ontspanningsgebied gedrink het.

Springsteen, wat op sy motorfiets was, is ook aangekla van roekelose bestuur en bestuur onder die invloed van drank, twee aanklagte wat die hof Woensdag laat vaar het. Die staat het aangevoer daar is nie genoeg bewyse nie.

Springsteen was kalm en beleef tydens die hofverrigtinge en het erken dat hy die drankies in die park gedrink het, al het hy geweet dit is onwettig.

Nadat hy aanvanklik onskuldig op die aanklagte gepleit het, het die verdediging en die staat ooreengekom dat hy skuld sou beken dat hy in die park gedrink het, in ruil daarvoor dat die ander aanklagte laat vaar en ʼn verhoor vermy word.

Regter Anthony Mautone het opgemerk dat die verbod in die park eers twee jaar gelede ingestel is. Hy het ook Springsteen se bykans perfekte bestuursgeskiedenis benadruk. Springsteen het geen vorige misdaadgeskiedenis nie.

Springsteen het een oortreding agter sy naam – die gebruik van ʼn selfoon in ʼn voertuig.

Aanklaers sê Springsteen wou aanvanklik nie ʼn voorlopige asemtoets doen toe ʼn parkbewaarder hom voorgekeer het nie, maar dié toets word nie ingevolge wetgewing vereis nie.

Die regter het Springsteen met $500 (R7 200) beboet omdat hy die drankies in die park gedrink het, asook $40 (R580) aan hofkoste.

“Mnr. Springsteen, ek moet vra hoe lank jy benodig om hierdie boete te betaal,” het die regter die internasionale ster, wat in ʼn loopbaan van bykans ʼn halfeeu altesame 20 ateljeealbums bekend gestel het, gevra.

“Ek dink ek kan dit dadelik betaal, u edele,” het die kunstenaar met ʼn glimlag gesê.

Die regter het hom beveel om die boete binne ʼn week te betaal.

Springsteen se bemarkingspan het ná die verrigtinge in ʼn verklaring gesê hy is “tevrede” met die uitslag.

Nadat hy in hegtenis geneem is, het Springsteen wel ʼn asemtoets vir alkohol gedoen, maar dit was ver onder die wettige bestuurslimiet.

Meer as 100 mense, die meeste van hulle verslaggewers, het die hofverrigtinge aanlyn gevolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lindi ·

As jy verkeerd is, is jy verkeerd. Mooi so Bruce om te ERKEN jy was verkeerd.

Robert ·

“Nadat hy aanvanklik onskuldig op die aanklagte gepleit het, het die verdediging en die staat ooreengekom dat hy skuld sou beken dat hy in die park gedrink het, in ruil daarvoor dat die ander aanklagte laat vaar en ʼn verhoor vermy word.”
Lyk nie vir my so mooi nie…

Anthony ·

Wys jou net, in Amerika is nie eens The Boss verhewe bo die wet nie…..unlike this circus al die clowns

JohanR ·

Sou daar enige ANC in die regering oor gewees het as dit “three strikes and your out” in SA was?

JohanR ·

As dit ‘n ANC was dan sou die saak tot by die hoogste hof gegaan het, as hy/sy daar verloor het sou daar nog appel aangeteken geword met belastinbetalers se geld!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.