Sproeiers, ‘Macarena’ skrik nie NS-betogers af

Polisie staan in die reën op die vyfde dag van protesoptogte by die Nieu Seelandse parlement. (Foto: Marty MELVILLE / AFP)

Nie eens die trefferlied “Macarena” uit die 90’s, wat herhaaldelik kliphard oor luidsprekers in betogers se ore geblaas word, kon die skares voor die Nieu-Seelandse parlement verjaag nie.

Die polisie het Saterdag kreatiewe oplossings probeer vind vir die voortslepende betoging teen Covid-19-maatreëls en verpligte inentings wat sedert Dinsdag duur en waaraan reeds meer as 1 500 mense deelneem. Teen Sondagmiddag is James Blunt se “You’re Beautiful” by die speellys gevoeg.

Intussen het stormsterk winde van tot 130 km/h om Wellington gewoed, namate ʼn dreigende sikloon die land genader het. Owerhede het inwoners gewaarsku om liefs alle nienoodsaaklike reise af te stel, aangesien baie paaie onbegaanbaar gemaak is deur vloede.

Vrywilligers braai vleis vir betogers by die Nieu Seelandse parlement. Foto: Marty MELVILLE / AFP)

Die polisie het later selfs die sproeiers op die grasperk waarop betogers uitkamp, aangesit, maar betogers het hul man gestaan en bloot in die modderige gras gedans op die maat van die einste liedere wat bedoel was om hulle te verjaag. Hulle het ook geantwoord met treffers van hul eie, en Twisted Sister se lied “We’re Not Gonna Take It” vir owerhede teruggespeel.

Grant Robertson, adjunkpremier van Nieu-Seeland, het aan Television New Zealand gesê daar is ʼn “hartseer element” aan die betogings. “Baie van hierdie mense word deur samesweringsteorieë voortgedryf. Elke Nieu-Seelander is geregtig op vreedsame betoging. Maar hierdie optrede het nou al veel verder as dit gegaan.”

Supt. Frans Scott het aan AFP gesê die polisie oorweeg alle moontlike maniere om die konflik op te los.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.