‘Squid Game’, Zendaya maak geskiedenis op Emmys

‘Squid Game’ se Lee Jung-jae het geskiedenis gemaak op die 74ste jaarlikse Emmy-toekennings deur die eerste nie-Engelssprekende akteur te word wat ‘n prys vir beste akteur in ‘n dramareeks gewen het. (Foto: Kevin Winter/Getty Images/AFP)

Die Koreaanse trefferreeks Squid Game het Maandagaand geskiedenis gemaak toe Lee Jung-jae as beste akteur op die 74ste jaarlikse Emmy-toekenningsgeleentheid aangewys is.

Dit is ʼn deurbraak en eerste keer vir ʼn nie-Engelssprekende akteur. Die Netflix-reeks het nog vyf toekennings ingeoes, onder meer vir beste regie.

Succession, ʼn drama wat handel oor ʼn familie wat mekaar in die rug steek vir beheer van ʼn mediaryk, is as beste dramareeks aangewys. Die dramareeks het altesaam 25 benoemings gehad en is met vier pryse vereer.

HBO se The White Lotus het 10 Emmy-pryse gewen, waaronder die toekenning vir beste beperkte reeks. Die Apple TV+-reeks, Ted Lasso, het vir ʼn tweede agtereenvolgende jaar die pryse vir beste komediereeks en beste akteur vir Jason Sudeikis ingeoes.

Michael Keaton en Amanda Seyfried is ook albei vereer vir hulle rolle in onderskeidelik Dopesick en The Dropout.

Zendaya (26) is aangewys as beste aktrise vir haar rol in die dramareeks Euphoria. Sy het geskiedenis gemaak deur die eerste swart vrou te word wat twee keer agtereenvolgens die Emmy vir beste aktrise in ʼn dramareeks inoes, asook die jongste vrou om twee Emmy-toekennings in dieselfde kategorie te wen.

Zendaya het ook geskiedenis gemaak op die 74ste jaarlikse Emmy-toekennings. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Die Television Academy het vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie ʼn volskaalse program by die Microsoft-teater in Los Angeles, VSA, aangebied.

Die bekendes het behoorlik die koppe op die rooi tapyt laat draai in ontwerpersuitrustings. Seyfried, wat met die toekenning vir beste hoofaktrise in ʼn beperkte reeks weggestap het, het in ʼn skitterende pienk rok oor die tapyt geloop.

Connie Britton, van The White Lotus, en The Flight Attendant se Kayley Cuoco het in pienk op die tapyt verskyn. Sydney Sweeney van Euphoria-faam was in ʼn noupassende groen rok geklee.

Suid-Afrika se eie Trevor Noah was ook in ʼn netjiese snyerspak op die glanstapyt te sien.

Die Saturday Night Live-akteur en Emmy-wenner Kenan Thompson het sy debuut as seremoniemeester gemaak. Hy het die verrigtinge afgeskop met ʼn dansnommer op die maat van ʼn keurspel van bekende televisiereekse se temaliedjies, waaronder dié van Friends en Game of Thrones.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Durban Afrikaner ·

Flip, Kayley lyk sleg met al daai plastiek. Hartseer, sy was nogals hot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.