Sri Lanka-aanvalle: VSA ‘het nie vooraf geweet’

Sri Lankaanse polisiebeamptes patrolleer ‘n straat voor ‘n moskee in Colombo. (Foto: Eranga Jayawardena, AP)

Die Amerikaanse ambassadeur in Sri Lanka sê die VSA het geen vooraf kennis gehad oor die reeks bomontploffings oor Paasnaweek wat nou reeds 359 lewens geëis het nie.

Ambassadeur Alaina Teplitz het dié opmerking vroeër vandag by die Amerikaanse ambassade in die Sri Lankaanse hoofstad Colombo gemaak. Volgens Teplitz help ʼn afvaardiging FBI-agente en Amerikaanse weermagamptenare reeds die land in sy ondersoek na die selfmoordbomaanvalle. Volgens Teplitz was daar “duidelik ʼn ineenstortingin die stelsel” voor die Paasnaweek-ontploffings.

Sri Lanka se regering het toegegee dat hy waarskuwings ontvang het dat ʼn plaaslike ekstremistegroep kerke bedreig en dat koppe kan rol weens ʼn beweerde gebrek aan optrede.

Reuters het berig volgens Sri Lanka se parlementêre leier het senior amptenare doelbewus intelligensie oor moontlike aanvalle weerhou. “Sommige top‑intelligensieamptenare het die intelligensieverslae doelbewus weggesteek. Die inligting was beskikbaar, maar topveiligheidsamptenare het nie die gepaste stappe gedoen nie,” het Lakshman Kiriella, ook die land se minister van openbare ondernemings, aan die parlement gesê.

Volgens Reuters het Kiriella gesê inligting oor moontlike selfmoordaanvalle op kerke, hotelle en politici is op 4 April van die Indiese intelligensiediens gekry en later by ʼn vergadering van Indiese pres. Maithripala Sirisena se veiligheidsraad bespreek.

“Iemand beheer dié top‑intelligensieamptenare,” het Kiriella beweer. “Die veiligheidsraad is besig met politiekery. Ons moet dit ondersoek.”

Reuters het ook berig Sarath Fonseka, ʼn voormalige weermaghoof en minister van streeksontwikkeling, het aan die parlement gesê die aanvalle moes oor die afgelope sewe of agt jaar beplan geword het.

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, het intussen gesê sy het geen amptelike kennisgewing van Sri Lanka of intelligensieverslae daaroor gekry wat bewerings van die Sri Lankaanse regering staaf dat die Paas‑aanvalle in weerwraak was vir die moskeeskieterye in Christchurch verlede maand nie.

Ardern het gesê die ondersoek in Sri Lanka is nog in die beginstadium en dat Nieu-Seeland sal terugstaan terwyl dit sy gang gaan. Ardern het gesê sy was ook nog nie in direkte verbinding met Sri Lanka nie, hoewel amptenare van die twee lande in gesprek is.

Sri Lanka se minister van verdediging, Ruwan Wijewardene, het vroeër gesê die regering het bewyse dat ʼn Islamitiese fundamentalistegroep verantwoordelik is vir die aanvalle in die land. Volgens hom was dit vergelding vir die moskeeskieterye op 15 Maart, waarin 50 mense gesterf het.

Die polisie in Sri Lanka het intussen gesê nog 18 vermeende betrokkenes is oornag in verband met die aanvalle in Colombo in hegtenis geneem. Altesame 58 mense is nou reeds aangekeer.

Die Islamitiese Staat (Isis) het sedertdien verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar en foto’s vrygestel wat glo die aanvallers wys.

Mense drom saam voor ‘n televisie in ‘n kafee om na ‘n toespraak van Sri Lanka se pres. Maithripala Sirisena oor die afgelope week se bomaanvalle te kyk. (Foto: Gemunu Amarasinghe, AP)

Ranil Wickremesinghe, eerste minister van Sri Lanka, het gesê ondersoekers bepaal nog die omvang van die aanvallers se buitelandse bande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Judge Dredd ·

Hoekom verwag hulle dat Amerika verantwoordelik is vir hul veiligheid?

Dries du Toit ·

Jaa vra ek ook. Trump word geskel maar daar word van hom verwag om hulle te help en beskerm

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.