Sri Lanka-krieketspelers trek neus op vir nuwe kontrakte

(Argieffoto)

Sri Lanka se nasionale krieketspelers weier om hul nuwe kontrakte teen dié naweek se spertyd te onderteken, maar sê hulle sal wel deelneem aan ʼn toer na Engeland later vandeesmaand.

ʼn Regsverteenwoordiger vir die krieketspelers sê hulle stem nie saam met ʼn nuwe betalingsklousule oor prestasie wat saamgestel is deur ʼn paneel van die krieketraad nie. Die paneel sluit die voormalige Australiese ster Tom Moody in.

“Spelers weier om die jaar- en toerkontrakte te onderteken tot die dispuut besleg is,” het regsverteenwoordiger Nishan Premathiratne in ʼn verklaring gesê.

Die verklaring het gevolg nadat Sri Lanka Krieket die spertyd reeds een keer tot Sondag uitgestel het.

Die verklaring lui dat spelers sal deelneem aan die toer na Engeland waar hulle drie internasionale eendagwedstryde en drie T20-wedstryde – sonder kontrakte – sal speel.

“Selfs al sou die spelers betaling geweier word, sal hulle vir die land speel. Dit is hul hoofdoel.”

Ingevolge die voorgestelde betalingstruktuur boet kaptein Angelo Matthews en die huidige toetskaptein Dimuth Karunaratne die meeste in.

Matthews se jaarlikse betaling daal van $130 000 (sowat R1,7 miljoen) tot $80 000 (sowat R1,07 miljoen).

Karunaratne se betaling daal van $70 000 (sowat R940 000) tot $30 000 (sowat R400 000).

Toe die nuwe betalingsplan verlede jaar bekend gestel is, het spelers gekla dat dit nie deursigtig is nie. Hulle het ʼn beroep op Sri Lanka Krieket gedoen om hulle nie te dreig nie. Spelers het ook die raad daarvan beskuldig dat hy vertroulikheid geskend het deur hul voorgestelde salarisse bekend te maak.

Die raad het nie dadelik gereageer nie, maar het al gesê dat spelers meer kan verdien ingevolge ʼn nuwe plan wat op prestasie gegrond is. Dit is opgestel met die hulp van die voormalige kaptein Aravinda de Silva en Moody.

Die Australiër is in Maart aangestel as die Sri Lankaanse raad se direkteur van krieket om die span vir die volgende wêreldbeker te help voorberei.

Die 24 nasionale spelers is jaarkontrakte aangebied met die veelsydige Dhananjaya de Silva en paaltjiewagter Niroshan Dikwella wat die grootste vergoeding, naamlik $100 000 (sowat R1,3 miljoen), aangebied is. Albei het volgens hul regsverteenwoordiger egter die nuwe kontrak verwerp.

Sri Lankaanse krieketamptenare sê die basiese betaling is bykomend tot betaling vir elke wedstryd, asook toelae vir reis buite Colombo.

Die president van Sri Lanka Krieket, Shammi Silva, het verlede maand gesê hy glo spelers kan meer verdien en Sri Lanka help om sy plek op die ranglys te verbeter.

Sri Lanka is tans agste op die ranglys van tien toetslande, negende in internasionale eendagwedstryde, en agste op die T20-ranglys.

Sri Lanka Krieket se spaarvarkie is leeg nadat verskeie toere verlede jaar weens die Covid-19-pandemie gekanselleer moes word. Sri Lanka het Indië oorreed om ekstra wedstryde tydens ʼn toer in Julie te speel sodat hy meer geld uit televisie-uitsaairegte kan verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.