Sri Lanka kry rooi kaart oor politieke inmengery

Jong sportliefhebbers speel rugby op die strand in Sri Lanka. (Foto: Lakruwan Wanniarachchi/AFP)

In ʼn kort en kragtige verklaring het Wêreldrugby bevestig dat Sri Lanka uit alle toernooie geskors is. Die skorsing sal van krag bly totdat die nasionale regering sy inmenging in die administrasie van die sport staak.

“Die besluit is geneem in reaksie op die groeiende kommer oor die bestuur van Sri Lanka Rugby en die oortreding van die Wêreldrugby-verordeninge met betrekking tot politieke inmenging. Die skorsing is onmiddellik van krag,” lui die verklaring.

Volgens AFP het Sri Lanka verlede jaar sy gekose raad in die pad gesteek, waarna Roshan Ranasinghe, die land se minister van sport, sy benoemdes aangestel het om aan die stuur van die plaaslike rugbyraad te staan.

Sy aanstellings word intussen in die hof betwis.

Wêreldrugby het aangedui dat hy saam met alle belanghebbendes sal werk om die beste oplossing te vind wat die land se rugby die minste sal ontwrig.

Rugby is naas krieket die land se gewildste sportsoort en Sri Lanka beklee tans die 46ste plek op die internasionale rugbyranglys.

“Die onmiddellike prioriteit is om met al die relevante belanghebbendes saam te werk om die bestuurskwessies op te los. Dit sal Sri Lankaanse spelers en beamptes in staat stel om aan wedstryde en toernooie in Asië deel te neem.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stephen ·

Dit is ongelooflik. Wat dan van SA regering se inmengery en blatante rassisme in SA Sport???????

Republikein in die Wes Kaap ·

Niks anders nie. Sri Lanka moet SA se geval uitwys rn hof toe vat. Skop SA uit die wêreldbeker.

Fran ·

En Suid Afrika???? Wanneer gaan hulle ons skors met al die ANC inmengery????

Petrie ·

Dan moes ALLE sport in Suid Afrika uit wêreld toernooie lewenslank geskors gewees het agv die anc spul se inmenging sedert 1994

lodewyk ·

En wat van die voorval toe SA rugby Isreal verbied het om hier te kom rugby speel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.