Staak handel in wilde, inheemse diere nóú, vra drukgroep

(Foto: Johan Vermeulen)

Die bewaringsgroep Pangolin.Africa het sy amptelike steun aan die #EndTheTrade-koalisie en veldtog wat die afgelope week bekend gestel is, toegesê.

Die koalisie hoop om finaal ʼn einde te maak aan die wêreldwye kommersiële handel en verkoop van wilde diere.

Die koalisie gaan ʼn gesamentlike strategie in werking stel wat onder meer fokus op verminderde verbruikersaanvraag en die sluit van kommersiële verskaffers van dié diere.

Die koalisie vra ook regerings reg oor die wêreld om die handel in wilde diere te beëindig.

Talle bewaringsgroepe, asook medici en bekendes het reeds hul steun aan die veldtog toegesê.

“As ʼn organisasie wat fokus op die oorlewing van die mees verhandelde wildspesies ter wêreld verwelkom ons dié internasionale inisiatief. Daar was nog nooit ʼn beter tyd vir die mensdom om op te tree om wild én die toekoms te beskerm nie,” het Toby Jermyn, direkteur van Pangolin.Africa, gesê.

“Die handel in wilde diere het talle spesies tot uitwissing gedryf en is nou ook daarvoor verantwoordelik dat die wêreld op sy knieë gedwing is. Slegs deur ʼn verenigde, internasionale standpunt teen dié onmenslike praktyke kan ons verseker dat ʼn pandemie op die skaal van Covid-19 nooit weer gebeur nie.”

Pangolin.Africa het ook ʼn beroep op ander organisasies en individue gedoen om besliste stappe te doen om natuurlewe en die planeet te help beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Twyfel sterk of die Afrika regerings, China en ander oosterse lande hulle hiertoe sal verbind. Die een kant sien net geld en die ander kant het vasgeval in hulle bygelowige eetgewoontes. Genade vir diere en die behoud van spesies is nie deel van hulle agendas nie.

Willem

Ons kan dit vergeet die China besit Afrika feite

Jacobus

Het die lys van diere gesien. O die lys is wild waarmee volhoubaar geboer kan word. As daar rigid by die lys gehou word kan hulle maar plaasboere ook daarop sit