‘Staatsgreep’ in Gaboen gefnuik; twee sterf

Soldate buite die hoofkantoor van die staatsradiostasie in Libreville, Gaboen. Foto: ANA

Die regering van Gaboen kon daarin slaag om ʼn gepoogde staatsgreep in dié Afrika-land te voorkom. Twee vermeende samesweerders het in die proses omgekom en nog sewe verdagtes is in hegtenis geneem.

Soldate het Maandag die hoofkantoor van die staatsradiostasie in Libreville, die hoofstad, bestorm en beheer van die radiostasie geneem. Lt. Kelly Ondo Obiang, wat homself beskryf het as ʼn beampte van die Republikeinse Mag, het om 04:30 (plaaslike tyd) in ʼn radioboodskap gesê pres. Ali Bongo is nie geskik om sy amp te beklee nie.

Bongo (59) is tans in Marokko waar hy ná ʼn beroerte herstel.

ʼn Video wat op sosiale media geplaas is toon hoe Obiang in militêre uniform die verklaring voorlees. Twee soldate met gewere staan agter hom.

Al Jazeera berig veiligheidsmagte het later die kantoor bestorm, Obiang in hegtenis geneem en twee beamptes in sy span doodgeskiet. Joernaliste en tegnici wat deur die weermaglede as gyselaara aangehou is en gedwing is om die uitsending van hul boodskap te bewerkstellig, is vrygelaat.

Volgens die berig is die staatsgreeppoging uitgevoer deur ʼn groep genaamd die Patriotic Movement of the Defence and Security Forces of Gabon.

Die BBC berig die Gaboense regering het intussen in ʼn verklaring gesê die situasie is onder beheer en bedrywighede by die radiostasie is terug na normaal. Volgens die regering sal weermaggeneraals, lede van die burgerlike samelewing en opposisieleiers wat in die rebelle se verklaring genoem is, ondersoek word.

Die Suid-Afrikaanse regering het Maandagaand die gepoogde staatsgreep ten sterkste veroordeel. Die departement van openbare betrekkinge en samewerking (Dirco) sê in ʼn verklaring Suid-Afrika ondersteun die Afrika-Unie-beleid dat alle ongrondwetlike magsveranderinge ten sterkste verwerp word. Dirco het ʼn beroep op die Gaboense weermag gedoen om te help om die magstryd in die land te stabiliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.