Staatsgreep in Mianmar; Aung San Suu Kyi aangehou

Aung San Suu Kyi. Foto: Claude Truong-Ngoc/Commons.wikimedia.org

Die weermag in Mianmar het ʼn staatsgreep uitgevoer en ʼn jaar lange noodtoestand afgekondig.

Die demokraties verkose leier Aung San Suu Kyi is in aanhouding geneem.

Die staatsgreep is uitgevoer ná weke van toenemende spanning tussen die weermag, wat Mianmar byna vyf dekades lank regeer het, en Suu Kyi se National League for Democracy- (NLD-)party wat die verkiesing in November verlede jaar loshande gewen het.

Kommunikasiemiddels vanuit Mianmar word sedert die staatsgreep ontwrig. Myo Nyunt, woordvoerder van die NLD, het bevestig dat Suu Kyi en Win Myint, president van Mianmar, voor dagbreek in die hoofstad Naypyidaw in aanhouding geneem is.

“Ons het gehoor dat hulle deur die weermag geneem is … met die situasie wat ons nou sien gebeur, moet ons aanneem dat die weermag ʼn staatsgreep uitvoer,” het Nyunt gesê.

Die weermag het kort daarna via sy eie televisiekanaal ʼn noodtoestand van een jaar verklaar en aangekondig dat voormalige generaal Myint Swe vir die volgende jaar as waarnemende president van Mianmar sal dien.

Die weermag het die staatsgreep geregverdig deur bewerings van “grootskaalse ongerymdhede” gedurende verlede jaar se verkiesing. “Aangesien die situasie ingevolge die wet opgelos moet word, word ʼn noodtoestand verklaar.”

Luidens berigte is nog ministers in aanhouding geneem.

Die VSA, die Verenigde Nasies en Australië het intussen die staatsgreep veroordeel en gevra dat demokrasie herstel word.

“Die VSA is gekant teen elke poging om die uitslag van die onlangse verkiesings te swaai of die demokratiese oorgang van Mianmar te belemmer, en sal optree teen diegene wat verantwoordelik is indien hierdie stappe nie omgekeer word nie,” het Jen Psaki, woordvoerder van die Withuis, in ʼn verklaring gesê.

“Ons doen ʼn beroep op die weermag om die oppergesag van die wet te respekteer, geskille op te los deur wettige meganismes en alle burgerlike leiers en ander wat onwettig aangehou word, onmiddellik vry te laat,” het die Australiese minister van buitelandse sake, Marise Payne, gesê.

Mianmar se verkiesing in November was maar dié land se tweede demokratiese verkiesing nadat 49  jaar van militêre bewind in 2011 tot ʼn einde gekom ​​het.

Suu Kyi het tussen 1989 en 2010 byna 15 jaar in huisarres deurgebring en is ʼn uiters gewilde figuur in Mianmar weens haar opstand teen dié land se weermag. Sy het jare lank bekend gestaan as Mianmar se leier van die vryheidstryd waarvoor sy in 1991 ʼn Nobelprys vir Vrede ontvang het.

Suu Kyi het egter in 2017 internasionale steun verloor weens die onderdrukking van ʼn Moslem-minderheidsgroep, die Rohingya-Moslems, in Mianmar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefaan

Die VSA is die laaste een om te praat.

Boerkind

Ou Biden veroordeel ‘n staatsgreep?? So daai een ou breinselletjie werk nog…

Jaco

Verloor steun toe sy begin optree teen mense wat in ander lande in geboue vasvlieg en op mense in nagklubs skiet. Dan is al daardie terreurdade seker maar reg…

Ralph

Jou Baiedun van Amerika se mense wat hom aan bewind gebring het, het dalk dieselfde gedoen, net op ‘n ander manier.

Jean

Lande moet ophou inmeng by ander lande, hulle sal hulle eie probleme oplos op ‘n manier.