ʼn Militêre staatsgreep is tans aan die gang in Gaboen waar militêre beamptes beheer van die staatsradiostasie van dié Afrikaland oorgeneem het om hul ontevredenheid met pres. Ali Bongo te verklaar.
Luidens mediaberigte is Bongo tans steeds in Marokko waar hy van ʼn beroerte herstel.
Dit is nog onduidelik of die soldate wat die radiostasie beset het die ondersteuning geniet van ʼn groter mag agter hulle.
Die weermag het wel Maandagoggend ʼn verklaring uitgereik waarin hulle hul voorneme deel om ʼn “nasionale herstelraad” op die been te bring en waarin hulle hul teleurstelling uitspreek in Bongo en sy vermoë om sy verpligtinge na te kom.
Die verklaring is uitgereik nadat soldate die staatsradio se hoofkantoor in Libreville, die hoofstad van Gaboen, bestorm het en die geluid van geweerskote gehoor kon word.
Volgens die BNO-nuuswebwerf het ʼn soldaat wat homself as lt. Kelly Ondo Obiang geïdentifiseer het, sy kollegas en medelandsburgers aangemoedig om hulle te bewapen en militêre basisse, lughawens en grensoorgange te beset.
Bongo se familie is al langer as ʼn halfeeu aan bewind in dié olieryke land. Hy het in Oktober 2009 aan bewind gekom, te midde van bewerings van bedrog en gewelddadige betogings.
Bongo is in Oktober verlede jaar in ʼn hospitaal in Saoedi-Arabië opgeneem nadat hy ʼn beroerte gehad het. Hy word sedertdien in Marokko behandel.
The Guardian berig Bongo het in sy Nuwejaarstoespraak met slepende spraak bevestig hy ervaar gesondheidsprobleme, maar gesê hy is besig om te herstel. Afgesien van sy spraakgebrek en die feit dat hy nie sy regterarm beweeg het nie, het hy geblyk in goeie gesondheid te wees.
“The Guardian”… MM, regtig?!
Jip, ek het die artikel daar gesien. The Guardian is n uitstekende koerant, ‘n goeie bron vir Maroela Media.
Net nog een van Afrika se vry en regverdige verkiesings.