Staatsgreep ontvou glo in Gaboen

‘n Staatsgreep is glo aan die gang in die olieryke Afrika-land Gaboen. (Grafika: Wikipedia)

ʼn Militêre staatsgreep is tans aan die gang in Gaboen waar militêre beamptes beheer van die staatsradiostasie van dié Afrikaland oorgeneem het om hul ontevredenheid met pres. Ali Bongo te verklaar.

Luidens mediaberigte is Bongo tans steeds in Marokko waar hy van ʼn beroerte herstel.

Dit is nog onduidelik of die soldate wat die radiostasie beset het die ondersteuning geniet van ʼn groter mag agter hulle.

Die weermag het wel Maandagoggend ʼn verklaring uitgereik waarin hulle hul voorneme deel om ʼn “nasionale herstelraad” op die been te bring en waarin hulle hul teleurstelling uitspreek in Bongo en sy vermoë om sy verpligtinge na te kom.

Die verklaring is uitgereik nadat soldate die staatsradio se hoofkantoor in Libreville, die hoofstad van Gaboen, bestorm het en die geluid van geweerskote gehoor kon word.

Koning Mohammed VI van Marokko (links) besoek die Gaboenese president Ali Bongo by ʼn militêre hospitaal in Marokko. Dié foto is op 3 Desember 2018 geneem. Dit was Bongo se eerste openbare verskyning nadat hy in Oktober 2018 siek geword het. Foto: Moroccan Royal Palace via AP

Volgens die BNO-nuuswebwerf het ʼn soldaat wat homself as lt. Kelly Ondo Obiang geïdentifiseer het, sy kollegas en medelandsburgers aangemoedig om hulle te bewapen en militêre basisse, lughawens en grensoorgange te beset.

Bongo se familie is al langer as ʼn halfeeu aan bewind in dié olieryke land. Hy het in Oktober 2009 aan bewind gekom, te midde van bewerings van bedrog en gewelddadige betogings.

Bongo is in Oktober verlede jaar in ʼn hospitaal in Saoedi-Arabië opgeneem nadat hy ʼn beroerte gehad het. Hy word sedertdien in Marokko behandel.

The Guardian berig Bongo het in sy Nuwejaarstoespraak met slepende spraak bevestig hy ervaar gesondheidsprobleme, maar gesê hy is besig om te herstel. Afgesien van sy spraakgebrek en die feit dat hy nie sy regterarm beweeg het nie, het hy geblyk in goeie gesondheid te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MissDemeanor ·

Jip, ek het die artikel daar gesien. The Guardian is n uitstekende koerant, ‘n goeie bron vir Maroela Media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.