Staatslening goedgekeur om Alitalia in die lug te hou

(Foto: Alitalia/Facebook)

Die Italiaanse regering het ʼn nuwe lening van €400 miljoen (sowat R6,4 miljard) toegestaan om die sukkelende nasionale lugredery, Alitalia, aan die gang te hou.

Alitalia is al sedert Mei 2017 onder regeringsbeheerde administrasie, en staatslenings van ongeveer €900 miljoen (R14,5 miljard) wat reeds toegestaan is, is byna uitgeput.

Die nuwe lening, wat vir ses maande geldig sal wees, sal Alitalia-administrateurs toelaat om verder die lugredery te herstruktureer en ʼn koper te vind, het die regering in ʼn verklaring gesê.

Die regering het reeds verskeie sperdatums gestel vir kopers wat belangstel om ʼn aanbod te maak vir Alitalia, maar dit het alles tevergeefs verstryk. Die laaste een het op 21 November verstryk.

Die staatsbeheerde spoorwegmaatskappy Ferrovie dello Stato (FS) het tot verlede maand pogings gelei om Alitalia oor te neem as deel van ʼn konsortium. Die konsortium het egter ontbind toe Atlantia (ʼn lughawens- en motorweëgroep wat deur die Benetton-familie beheer word) onttrek het. Die Italiaanse ministerie van ekonomie en die Amerikaanse lugredery Delta was ook deel van die konsortium.

Die Duitse lugredery Lufthansa was ook deel van gesprekke oor Alitalia, maar gesê hy sal slegs ʼn belegging oorweeg ná groot herstrukturering gedoen is en talle poste gesny is.

Andrea Giuricin, vervoerbeleidskenner, het bereken Alitalia het die Italiaanse belastingbetaler al die afgelope twee en ʼn half jaar minstens €1,5 miljard gekos.

Die lugredery het laas in 2002 ʼn wins getoon en verliese het in die eerste helfte van 2019 toegeneem. Administrateurs blameer hoër brandstofkoste hiervoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stephan ·

Eers SAA, en nou ook Alitalia.
Kostedrywers? Salarisse, brandstof, belasting (landingsregte, lughawebelasting)…
Dit alles dui maar net op die bestuurs-onvermoëns, die “skeppendes” (bakhand-staners), en ‘n onwilligheid om te wil werk…”ons wil net hê”…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.