Staatsman en vredemaker: Mikhail Gorbatsjof sterf

Mikhail Gorbatsjof is in die ouderdom van 91 dood. Dié foto is in 2016 geneem. (Foto: Vasily Maximov/AFP)

Mikhail Gorbatsjof, wat die verloop van die geskiedenis verander het deur die einde van die Sowjetunie te bewerkstellig en een van die grootste leiers van die 20ste eeu was, is in Moskou dood. Hy was 91 jaar oud.

Russiese nuusagentskappe het die nuus Dinsdag bekend gemaak en berig dat Gorbatsjof in ʼn hospitaal in die hoofstad ná ʼn “lang en ernstige siekte” dood is.

Gorbatsjof was tussen 1985 en 1991 in beheer en het gehelp om die verhouding tussen die Sowjetunie en die VSA te herstel ná ʼn jare lange Koue Oorlog. Hy was die laaste oorblywende leier van die Koue Oorlog.

Sy lewe word bestempel as een van die invloedrykste van sy tyd en die hervorming wat hy as Sowjetleier ingestel het, het sy land verander en Oos-Europa toegelaat om hom van Sowjet-regering te bevry.

Die veranderings wat hy teweeg gebring het, het van hom ʼn gewilde leier in die Weste gemaak – hy het in 1990 die Nobelprys vir vrede ontvang – maar dit het hom ook die gramskap op die hals gehaal van talle Russe wat jammer was oor die einde van hul land se rol as ʼn internasionale supermoondheid.

Gorbatsjof het die afgelope twee dekades op die politieke rand deurgebring en versoeke gerig vir beter verhoudings tussen die Kremlin en die Withuis, terwyl spanning ná Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland toegeneem het en Russiese magte vroeër vanjaar ʼn inval van Oekraïne van stapel gestuur het.

Sy verhouding met pres. Wladimir Poetin was soms uiters stram, maar die Russiese leier het nietemin sy “diepste medelye” ná Gorbatsjof se dood betuig.

Gorbatsjof was in die laaste jare van sy lewe in en uit die hospitaal en sy gesondheid het toenemend versleg. Tydens die koronaviruspandemie was hy in selfisolasie as voorsorgmaatreël teen die virus.

Wêreldleiers bring hulde

Talle wêreldleiers het reeds hulde aan Gorbatsjof – wat in die Weste as Gorby bekend gestaan het – gebring.

Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), het Gorbatsjof bestempel as ʼn “staatsman wat enig in sy soort was en die verloop van die geskiedenis verander het”. Volgens Guterres het Gorbatsjof “meer as enige ander mens gedoen om ʼn vreedsame einde aan die Koue Oorlog te bring”.

Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het die oudleier as ʼn “vertroude en gerespekteerde” man bestempel wat die weg vir ʼn vrye Europa gebaan het.

Von der Leyen sê die rol wat hy gespeel het, het ʼn nalatenskap gelaat wat nie vergeet kan word nie.

Die Britse eerste minister, Boris Johnson, het in ʼn huldeblyk gesê hy het nog altyd die “dapperheid en integriteit” wat Gorbatsjof destyds getoon het, bewonder.

“In ʼn tyd van Poetin se aggressie in Oekraïne, bly sy [Gorbatsjof se] onvermoeibare verbintenis om die Sowjet-samelewing oop te stel ʼn voorbeeld vir ons almal.”

Die Franse president, Emmanuel Macron, het Gorbatsjof as ʼn “man van vrede” beskryf en gesê hy het ʼn vryheidsweg vir Russe gebaan. “Sy verbintenis tot vrede in Europa het ons gedeelde geskiedenis verander.”

Die Amerikaanse president, Joe Biden, sê Gorbatsjof was ʼn “skaars leier” wat die wêreld ʼn beter plek gemaak het.

“Een met die verbeelding om te sien dat ʼn ander toekoms moontlik is en die moed om sy ganse loopbaan op die spel te plaas om dit te bereik. Die gevolg was ʼn veiliger wêreld en groter vryheid vir miljoene mense.

“Mikhail Gorbatsjof was ʼn man van besondere visie.”

James Baker III, wat in die doodsnikke van die Koue Oorlog met Gorbatsjof onderhandel het, sê die geskiedenis sal hom onthou as ʼn “reus wat sy grootse land na demokrasie gestuur het”.

“Die vrye wêreld mis hom geweldig.”

ʼn Bron na aan die Gorbatsjof-familie het aan die nuusagentskap TASS gesê die voormalige leier sal in Moskou se Novodevichy-begraafplaas begrawe word. Dit is ook die laaste rusplek van talle ander beroemde Russiese figure, onder wie Boris Jeltsin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anna-marie ·

Hy was die man wat gevra het dat NAVO hulle versekering moet gee dat hulle (Navo) nie sal uitbrei tot op die grens/buurlande van Rusland nie. Navo het aan hom dit belowe…..

Manie ·

Ons het al geleer dat politieke ooreenkomstes net so lank duur as wat die onderhandelaars aan bewind is.

OW ·

Hy was sy tyd ver vooruit.Wie kan sy Russiese hervorming vergeet.Glasnost en perestroika.Hy sal onthou word as een van die kreatiefste leiers wat Rusland ooit gehad het.RIV.

Gaitsigubib ·

Daar was baie onrus in Rusland in daardie dae so ek weet nie hoe die mense van Rusland hom sal onthou nie, maar hy was deurslaggewend om die muur in Berlyn af te breek. Hy het ook belowe om uit te vind of daar nog POW’s van die Korea oorlog in aanhouding was in Siberie. Daar het niks van gekom nie, maar sy belofte was meer as wat Harry Truman gedoen het om seker te maak al sy troepe kom huistoe.

Johan ·

Ja ek onthou die onderwyseres op skool het ons vertel sy geboortevlek is eintlik n satanistiese tatoeermerk. Dít saam met al die gavare van pop musiek ens.

Gaitsigubib ·

Ek onthou die stories Johan, jou goeie geheue besorg jou vandag n afmerkie. Ek onthou hulle het by skole omgegaan en gewaarsku oor die invloed van popmusiek, kommunisme en satanisme – Queen en daai tipe goed.

twaalfboor ·

Johan ek wens die afduimpies wil hulself net verduidelik. Ek het ook die “spook storie” gehoor. Dalk was afduimpie nie van daai generasie nie.

Thom ·

En die regse twak dat skoenlapper-prentjies op klere van die duiwel in persoon was !

Marthinus W ·

Die skoenlapper, volgens my ou weermaghandboek, verwys na “vrye liefde, en n sekere posisie”. n Gehapte appel was ook “vrye liefde”, selfs die Monopoly “get out off jail”-kaartjie is deur hierdie verstoktes gesien as subwersie; jy mag ook nie sersantstrepe of ander range aan jou klere gewerk het, soos John Lennon, nie.

Marthinus W ·

Gorbatsjof het in n onderhoud n jaar of drie gelede genoem dat sy fout was dat hy en sy span te selfversekerd was. Hulle was in beheer en het geglo hulle kon doen wat hulle wou. Ook, toe hy die monopolie op die Kommunistiese Party eindig, het niemand meer geweet na wie toe hulle kon gaan om probleme aan te meld en uit te lig nie. En toe maak hy die fout on Boris Jeltsin [Rusland se Jacob Zuma] aan te stel in n invloedryke posisie. Jeltsin het hom gered toe die kommies in Augustus 1991 n staatgreep uitgevoer het, gelei deur die KGB-hoof (Poetin het gesien hoe die wind waai, en net voor die staatgreep uit die KGB bedank).

Weens Jeltsin se gewildheid daarvan, is hy verkies tot leier van Rusland, terwyl Gorbatsjof leier van die Sowjetunie was. Maar Jeltsin, en die leiers van Oekraine en Belarus het agter sy rug gekonkel, en die Sowjetunie beeindig. Gorbatsjof se hande was afgekap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.