Staking ontspoor dalk Kersfees in Frankryk

Voetgangers voor die Galeries Lafayette in Parys (19 Desember 2019) (Foto: AP Photo/Thibault Camus)

Reisigers en toeriste in Frankryk het Saterdag gesukkel om hul bestemmings tydens die Kersseisoen te bereik weens voortgesette stakings in die land.

Die staking hou verband met die regering se planne om die aftreeouderdom na 64 te verhoog.

Treinprobleme is Saterdag effens verlig danksy ʼn plan van die spoorwegowerheid SNCF om passasiers ʼn paar dae voor die tyd daarvan in kennis te stel en kaartjiewysigings voor te stel. Slegs die helfte van sneltreine was aktief en streekstreine, ook in Parys, is ernstig ontwrig.

Agt van die 14 metrolyne in Parys is gesluit en talle ander was slegs sporadies beskikbaar.

Miljoene Franse sal na verwagting in die volgende paar dae reis vir familiebyeenkomste tydens Kersfees. Talle het reeds van alternatiewe vervoer gebruik gemaak soos motordeel-dienste of busmaatskappye wat ʼn toename in besprekings beleef het.

Meeste vervoervakbonde het versoek dat die staking tydens die vakansie voortduur, aangesien gesprekke tussen die eerste minister en vakbonde ʼn dooiepunt bereik het.

ʼn Onlangse meningspeiling het gewys dat Franse steeds die staking ondersteun uit vrees dat hulle langer sal moet werk vir laer pensioene. Die meerderheid is egter ook ten gunste daarvan dat die betogings tydens die Kersgety opgeskort moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.