Standbeeld sal vir walrus opgerig word

Argieffoto van Freya (19 Julie 2022) (Foto: Tor Erik Schrøder/NTB/AFP)/Norway OUT

ʼn Aanlyn veldtog het meer as sowat R360 000) ingesamel om ʼn standbeeld in Noorweë op te rig vir Freya, ʼn geliefde walrus wat oor die naweek van kant gemaak is.

Die walrus het wêreldwyd opslae gemaak toe sy in die Oslo-fjord in die son gelê en bak het. Groot skares was gretig om die 600 kg mariene dier te sien.

Sy is Sondag van kant gemaak nadat beamptes gesê het sy wys tekens van stres en hulle was bekommerd dat sy ʼn bedreiging kan inhou vir die publiek as hulle nie hul afstand van haar hou soos versoek is nie.

ʼn Aanlyn veldtog het teen Woensdag reeds 210 000 Noorweegse kroon ingesamel om ʼn standbeeld op te rig ter ere van dié jong walrus.

Die veldtog se organiseerder sê die standbeeld moet dien as ʼn herinnering vir toekomstige generasies om diere te beskerm.

“Freya se slagting stuur ʼn uiters negatiewe boodskap dat Noorweë, en veral Oslo, nie in staat is om ʼn ruimte te skep vir wilde diere nie,” sê Erik Holm op die veldtog se webwerf Spleis.no. “Die standbeeld is ʼn simbool van die wat Freya in so kort tydjie geword het. Ons herinner onsself (en toekomstige generasies) dat ons nie die natuur kan uitvee of doodmaak wanneer dit in ons pad staan nie.”

Freya, na raming sowat vyf jaar oud, is reeds in die Verenigde Koninkryk, Nederland, Denemarke en Swede opgemerk en het gekies om ʼn deel van die somer in Noorweë deur te bring. Sy het sedert 17 Julie opslae gemaak toe sy in die water van die Noorweegse hoofstad opgemerk is.

Die walrus is ʼn beskermde spesie wat gewoonlik in die noordelike dele van die Arktiese Oseaan woon.

ʼn Walrus kan tot 20 ure per dag slaap. Freya is verfilm waar sy ʼn eend jaag, ʼn swaan aanval en op bote lê en slaap.

Ondanks herhaaldelike versoeke het nuuskierige besoekers die dier steeds bly nader – soms saam met kinders, om foto’s te neem.

Walrusse reageer gewoonlik nie aggressief jeens mense nie, maar hulle voel bedreig wanneer mense te naby aan hulle kom en kan hulle dan aanval.

Kritici sê die besluit om die dier uit te sit is oorhaastig geneem en haar welstand is nie in ag geneem nie. Beamptes het egter gesê dit sou heeltemal te ingewikkeld gewees het om Freya na ʼn gebied te skuif wat nie so dig bevolk is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Patch ·

En so word nog ‘n onskuldige dier onnodig van kant gemaak. Ons mensdom is ook maar wreed! Die walrus was geen bedreiging. “…die standbeeld moet dien as ʼn herinnering vir toekomstige generasies om diere te beskerm…” Is dit die manier om toekomstige generasies te leer HOE om dit dit doen?? Heeltemal onaanvaarbaar. Live and let live!

Sandra ·

Ek stem saam dat die besluit om haar van kant te maak te haastig geneem is. Hoe maak jy ‘n dier van kant wat nog nie eens mense aangeval het nie? Ek sal dit nie kan verstaan nie. Pleks hulle eerder ‘n skans tussen haar en die mense gesit het. Sy was gestres omdat mense haar nie kan uitlos nie, nie andersom nie. Ek lees nie van die mense wat haar lastig geval het wat uitgesit word nie. Nou wil hulle ‘n standbeeld oprig?? Is die regte weergawe nie beter nie. Eish die mensdom darem

Sê maar net ·

Arme, onskuldige dier. Hulle gee haar ‘n naam en dan maak hulle haar dood. Wreed :(

Dandeleen ·

Een van die dae gaan daar nie meer diere te sien wees nie, ons gaan ons kinders moet leer van standbeelde, boeke en tv af hoe hulle gelyk het. Baie hartseer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.