Stapper in bloedige hitte vasgekeer

’n Helikopter is gestuur en die man is op die krans opgepik en na veiligheid geneem (Foto: Palm Springs Fire Department, Twitter)

’n Man van Palm Springs in Kalifornië is gered nadat hy Donderdagmiddag in bloedige hitte van 42 °C (108 °F) gaan stap en op ’n krans vasgekeer is. Die man het selfoonsein gehad en kon die nooddienste betyds ontbied.

Dié voorval volg ’n maand nadat ’n man van Palm Spring weens hitte-uitputting dood is.

Dele van die suide en die weste van die VSA gaan sedert Junie onder ʼn erge hittegolf gebuk. Rekord temperature van tot 53 °C (128 °F) is aangeteken.

CBS News berig die stapper, net bekend as James, het omstreeks 13:00 nooddienste na die krans ontbied. Hy het aan die nooddienste gesê hy het die pad byster geraak toe hy vir ’n oomblik klippies uit sy skoene verwyder het. Hy het ook gesê hy is nie beseer nie, maar is net erg deur die son gebrand.

Kapt. Nathan Gunkel van die Palm Springs-brandweer, sê hulle het die presiese GPS-koördinate van James se ligging gekry en sowat 20 reddingswerkers na die toneel gestuur.

“’n Helikopter is gestuur en die man is op die krans opgepik en na veiligheid geneem,” sê Gunkel.

Volgens reddingswerkers moes die man in die eerste plek nie in die hitte gaan stap het nie.

Nooddienste het die afgelope maand op talle noodoproepe gereageer, wat met die versengende hitte verband hou.

Geoffrey-Martin Cyr is verlede maand in Palm Springs weens hitte-uitputting dood toe hy meer as ’n uur lank buite langs die swembad vertoef het. Temperature van tot 48 °C (119°F) is daardie dag aangemeld.

Cyr sou daarna sy vriend, Jill Langham, vir ʼn drankie by ʼn kroeg ontmoet het, maar het nooit opgedaag nie. Cyr het ineengestort en is later dood aan komplikasies wat verband hou met hitte-uitputting. Sy liggaamstemperatuur was glo 40,5 °C (105 °F).

News Channel 3 berig nooddienswerkers het inwoners gewaarsku om ten tyde van die hittegolf strawwe aktiwiteite in die buitelug te vermy en baie water te drink.

Jeff Berardelli, ’n meteoroloog van CBS News, sê die hittegolf is ’n uitsonderlike verskynsel. Hy sê temperature sal oor die naweek in die Death Valley-gebied tot 54 °C (130 °F) styg, wat ’n rekord temperatuur vir hierdie gebied van die VSA sal wees.

Maroela Media het vroeër berig minstens 134 mense is einde Junie skielik in die omgewing van Vancouver in Kanada dood terwyl dié gebied sy hoogste temperature nóg aangeteken het. Die oorgrote meerderheid van sterfgevalle hou verband met die hitte wat in dié streek beleef is. Temperature het in van die gebiede tot 49,5 °C gestyg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Dalk is die warm weer spesiaal om die virus dood te brand. Die ding hou mos nie van hitte nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.