Stappers verdrink net ná hul redding

Reddingsduiker Travis Preston haak die stasiewa in die water aan die vasmeerpunt

Twee stappers wat eers verdwaal het, is net ná hul redding dood toe hulle tydens ʼn storm met hul motor in die Atlantiese Oseaan beland het.

Amy Stiner van Maine in Amerika, wat vyf maande swanger was, en Melissa Moyer van Pennsylvania in Amerika, het glo ʼn verkeerde afdraai geneem in Main State Park en het met hul stasiewa in die see beland. Die twee vroue is Dinsdagaand sowat 53m van die kuslyn af dood aangetref. Hul hond het ook in die ongeluk gesterf.

Die vroue het die aand omstreeks 21:00 in die park verdwaal weens die erge wind en reën. ʼn Lid van ʼn plaaslike soek- en reddingspan het die vroue en hul hond opgespoor, en natuurbewaarders het hul veilig terugbesorg by hul stasiewa. Sowat ʼn uur later het die natuurbewaarders ʼn oproep ontvang dat die vroue met hul voertuig in die water beland het. Die ongeluk het ongeveer 1.6km vanwaar hul laas gesien is, plaasgevind.

Die Portland Press-Herald berig dat die vroue self die oproep na die beamptes gemaak het, en kon berig dat hul stasiewa besig is om te sink voordat hul selfoon uitgesny het. Soekspanne het die motor sowat 53m van ʼn vasmeerpunt af opgespoor. “Die einde van die pad word die vasmeerpunt, en hulle was net nie bekend met die omgewing nie,” het Donnie Smith, woordvoerder van die polisie, aan die Press-Herald gesê. “Dit was mistig en reënerig en hulle het letterlik bo vanaf die vasmeerpunt in die water in gery.”

Smith het aan die koerant gesê die voertuig is so ver van die kus af opgespoor omdat dit moontlik is dat die stasiewa eers ʼn ruk lank gedryf het voordat hy begin sink het. Die vroue is op die agtersitplek aangetref omdat die voorkant van die stasiewa eerste begin sink het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.