‘Star Trek’-akteur sterf in fratsongeluk

Anton Yelchin (Foto: Twitter/Anton Yelchin Online)

Anton Yelchin (Foto: Twitter/Anton Yelchin Online)

Die Amerikaanse akteur, Anton Yelchin, is Saterdagaand in die ouderdom van 27 in ʼn fratsongeluk oorlede.

Yelchin is onder andere bekend vir sy rol as Chekov in die nuwe Star Trek-flieks.

Volgens Jennifer Allan, sy publisiteitsbeampte, het vriende van die akteur die polisie vroeg Saterdagaand ingeroep nadat hy nie vir repetisies opgedaag het nie.

Die polisie het hom Sondagoggend omstreeks 01:00 (08:00 GMT) dood aangetref in sy oprit.

Jenny Houser, woordvoerder van die polisie in Los Angeles, sê Yelchin is glo dood toe hy vermoedelik die hek agter hom wou toemaak. “Dit lyk asof Yelchin uit sy motor geklim en dit toe per ongeluk agteruit gerol het, wat tot sy dood gelei het,” het sy gesê.

Yelchin is ook bekend vir sy rolle in Alpha Dog en Charlie Bartlett.

Sy jongste fliek, Star Trek: Beyond, begin in Julie in teaters draai.

Huldeblyke van sy aanhangers en bekendes het intussen begin instroom. “Hartseer nuus oor Anton Yelchin. Hy was ʼn besonderse, talentvolle akteur en is te gou van ons weggeneem,” het die skrywer Stephen King op sy Facebook-blad geskryf.

Bron: The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

zahn ·

Alweer op die ouderdom van 27. So baie van die bekendes maak dit nie verby daardie ouderdom nie. Wonder wat aangaan. Nee, ek gaan haal nie die bobbejaan agter die bult nie, maar dit is so. Amy Winehouse, daai akteur van Brokeback mountain, ag, soveel ander. Hoe oud was James Dean toe hy dood is?

ai tog ·

Moet nie sleg voel as niks meer logies klink of sin maak nie. Jy is nie enigste mens wat so voel of dink of lees nie.

Kobus ·

Die motor wat hy gery het is blykbaar herroep as gevolg van verwarring oor die ratte. Meer as 40 ander mense is deur hierdie model beseer.

sê maar net ·

Hulle noem dit die 27s Club.
River Phoenix, Kurt Cobain, Amy Winehouse en vele meer het op die ouderdom gesterf.
Baie hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.