Star Trek se Shatner regtig op pad ruimte toe

Elizabeth en William Shatner by die première van CBS se “Star Trek: Discovery” (19 September 2017) (Foto: Mark Ralston/AFP)

Blue Origin het Maandag bevestig William Shatner, wat kapt. James T. Kirk in die oorspronklike Star Trek-reeks gespeel het, sal op 12 Oktober na die ruimte vlieg aan boord die maatskappy se bemande vuurpyl. Dit sal van hom die oudste ruimtevaarder maak.

“Ek hoor nou al lank van die ruimte. Ek gebruik nou die geleentheid om dit vir myself te sien. Wat ʼn wonderwerk,” het die 90-jarige akteur in ʼn verklaring deur Jeff Bezos se ruimtemaatskappy gesê.

Die wetenskapfiksie-televisiereeks het in 1966 begin en het slegs drie seisoene gehad, maar het ʼn groot impak gehad op populêre kultuur en verskeie flieks en TV-reekse, wat op die oorspronklike reeks gebaseer is, het gevolg.

Shatner, as Kirk, was bevelvoerder van die USS Enterprise wat op ʼn vyf jaar lange sending was “om vreemde nuwe wêrelde te ontdek, nuwe lewe en nuwe beskawings te soek, en dapper te reis waar geen ander mens vantevore gereis het nie”.

Sy werklike reis na die ruimte sal natuurlik baie korter wees – slegs sowat 10 minute, in ʼn vlug wat die bemanning net verby die Karmanlyn sal neem, sowat 100 km bó die Aarde.

Blue Origin het ook die identiteit van die laaste passasier, Audrey Powers, aangekondig. Powers is die maatskappy se adjunkpresident van sendings en vlugbedrywighede.

Hulle sluit aan by Chris Boshuizen (voormalige Nasa-ingenieur en medestigter van Planet Labs) en Glen de Vries (medestigter van kliniese navorsingsplatform Medidata Solutions).

Die nuus kom te midde van bewerings van ʼn “toksiese werkskultuur” en seksuele teistering by Bezos se maatskappy. Die bewerings, wat ten sterkste deur Blue Origin verwerp word, is uiteengesit in ʼn lang blog-plasing verlede week deur Alexandra Abrams, die maatskappy se voormalige hoof van personeelkommunikasie. Die plasing verteenwoordig glo die mening van 20 ander werkers en voormalige werkers en verskeie afdelings wat anoniem wil bly.

Abrams en haar mede-outeurs voer aan die maatskappy het ʼn patroon van besluitneming wat vinnige vuurpylontwikkeling prioritiseer bó veiligheid en dat verskeie van hulle nie veilig sou voel in die maatskappy se New Shepard-vuurpyl nie.

Bezos, die wêreld se rykste man, sy broer Mark, lugvaartpionier Wally Funk en betalende kliënt Oliver Daeman het op 20 Julie die eerste bemande vlug onderneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Skoenmaker hou jou by jou lees. Bezos trek Hollywood nader vir flair en fun. Kirk se beplande reis van 10 miniute kan dalk in ‘n paar eeue verander… Rondom en rondom ou Moeder Aarde…

Boksombende ·

As jy (Blue Origin) nie wen in die hof nie, dan probeer wen in die media deur jou maatskappy te koppel aan nostalgiese ikone van die verlede. Kom ons hoop vir Bezos dat Shatner se hart nie gaan staan oppad ruimte toe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.