Statebondspele: SA spog met sóveel medaljes

Sunette Viljoen (Foto: AP/Dita Alangkara)

Suid-Afrika se mans-verspringers het so byna die 100 m-naellopers nagedoen deur eerste en tweede te eindig. Dit was egter nie goud en silwer nie, maar goud en brons. Suid-Afrika se twee sterre, Luvo Manyonga en Ruswahl Samaai, was briljant en hulle was deurentyd onder die voorste drie springers.

Manyonga, die huidige wêreldkampioen, het ʼn nuwe Spele-rekord van 8,35 m met sy vierde sprong opgestel en met sy laaste sprong dit nog verder verbeter na 8,41 m.

Ruswahl Samaai het die bronsmedalje gewen met ʼn sprong van 8,22 m.

Luvo Manyonga op 1 April (Foto: AP/Matt Dunham)

Die 35-jarige Sunette Viljoen het haar vierde Statebondspele-medalje in spiesgooi gewen toe sy ʼn bronsmedalje in Australië ingepalm het. Viljoen se openingsgooi van 62,08 meter was haar beste van die dag. Viljoen het reeds twee goue medaljes by vorige Statebondspeles gewen (2006 en 2010). In 2014 het Sunette die silwer medalje in Glasgow gewen met ʼn afstand van 63,13. Sy het dit opgevolg met ʼn silwer medalje by die Rio Olimpiese Spele in 2016 (64,92).

Die Aussie Kathryn Mitchell het met haar openingsgooi ʼn reuseafstand van 68.92 meter aangeteken om met die goue medalje weg te stap. Mitchell het met hierdie gooi ook ʼn nuwe Spele-rekord daar gestel.

Reinhardt Hamman het ʼn brons medalje in die mans F38 gewigstoot-kompetisie  gewen met ʼn afstand van 13,15 m.

In die 200 m-halfeind het Clarence Munyai en Ananso Jobodwana beide vir die finaal gekwalifiseer. Daar was byna ʼn groot skok toe Jobodwana voor die tyd weggespring het, maar hy is nog ʼn kans gegun nadat daar baie geraas in die stadion was. Die finaal word Donderdag om 13:56 gehardloop.

Flippie Walker en Nozipho Schroeder, ʼn visueel-gestremde rolbalpaar, het Woensdag silwer in die B2/B3-kompetisie gewen.

Suid-Afrika het teen Woensdagmiddag reeds 26 medaljes (10-7-9) op die 21ste Statebondspele ingeryg.

Lees meer oor die res van die Statebondspele-wenners op Maroela Media.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.