Steeds baie woede, hartseer twee dekades ná 9/11

Amerikaners omhels mekaar vandeesweek by die 9/11-Herdenkingsmuseum in New York. (Foto: Getty Images via AFP)

Amptenare in New York het vandeesweek – enkele dae voor die 20ste herdenking van die 9/11-terreuraanvalle –  gesê die oorskot van nog twee slagoffers kon geïdentifiseer word danksy gevorderde DNS-tegnologie.

Vandag is dit presies 20 jaar sedert die Islamitiese terreurgroep Al Kaïda die VSA op 11 September 2001 op sy knieë gedwing en vier selfmoordaanvalle op dié land uitgevoer het.

Vier vliegtuie is dié noodlottige oggend gekaap. Twee van die vliegtuie het in die World Trade Center se Twin Towers in New York vasgevlieg, ʼn derde in die Pentagon net buite Washington DC en die vierde vliegtuig het in ʼn veld naby Shanksville in Pennsilvania neergestort.

Die aanvalle het die lewe van byna 3 000 mense geëis en die verloop van Amerikaanse geskiedenis vir ewig verander.

Die kantoor van die stad se hoof mediese ondersoeker het bevestig dat hy formeel die 1 646ste en 1 647ste slagoffer van die aanvalle geïdentifiseer het.

‘n Blom vandeesweek by die 9/11-Herdenkingsmuseum in New York. (Foto: Getty Images via AFP)

Die 1 646ste slagoffer is geïdentifiseer as Dorothy Morgan, van Hempstead in Long Island. Die 1647ste slagoffer se naam word egter weerhou op versoek van die familie.

Altesame 2 753 mense is die noodlottige dag twee dekades gelede dood. Ongeveer 40% (1 106) van die slagoffers se identiteit is steeds onbekend.

“Maak nie saak hoeveel tyd sedert 11 September 2001 verloop nie, ons sal nooit vergeet nie en ons onderneem om alles tot ons beskikking te gebruik om seker te maak dat almal wat dood is, se oorskot met hul gesinne herenig kan word,” het Barbara Sampson, hoof mediese ondersoeker, in ʼn verklaring gesê.

Die One World Trade Center, ook bekend as Freedom Tower, het intussen die Twin Towers se plek in Manhattan ingeneem. (Foto: Ed JONES / AFP)

Vir die slagoffers se geliefdes is dit ná 20 jaar steeds ʼn rou wond.

“Ek voel asof dit nou-net gebeur het,” sê die Amerikaner Monica Iken-Murphy wie se man, Michael Iken (37), in die World Trade Center dood is.

Ander sukkel om te vergewe. “Daar sal nooit ʼn weergawe van my wees wat die mense wat dit gedoen het, nié haat nie” sê AJ Niedermeyer, ’n jong Amerikaner wie se pa in die Word Trade Center dood is toe hy maar twee jaar oud was.

Alfonse Niedermeyer was ’n polisiebeampte wat die dag op die aanvalle gereageer het en later in die Suid-toring omgekom het. Hy was 40 jaar oud.

Sy vrou het kort ná sy dood uitgevind is dat sy swanger is met AJ se suster, Angelica.

Verskeie gedenkdienste sal vandag in die VSA gehou word ter nagedagtenis aan die mense wat in die aanvalle omgekom het.

Rook borrel op 11 September 2001 uit die World Trade Center nadat die Noord-toring getref is. (Foto: HENNY RAY ABRAMS / AFP)

Twintig jaar later

Baie het gebeur sedert daardie noodlottige oggend twee dekades gelede.

Osama bin Laden, stigter van Al Kaïda, is opgespoor en vermoor terwyl ’n nuwe wolkekrabber die Twin Towers se plek in Manhattan ingeneem het.

Die Taliban is weer aan bewind in Afghanistan terwyl die laaste Amerikaanse soldate minder as twee weke gelede aan dié land onttrek is en ’n einde aan die sogenaamde “ewige oorlog” gebring het.

Intussen gaan die verhoor van die beweerde meesterbrein agter die 9/11-terreuraanvalle, Khalid Sheikh Mohammed, en sy medebeskuldigdes voort.

Die volledige verhaal van hoe die aanvalle gebeur het, is 20 jaar later steeds ’n geheim, hoewel pres. Joe Biden verlede week beveel het dat geheime dokumente oor die regering se ondersoek na die aanvalle oor die volgende ses maande openbaar moet word.

Só het gebeure op 11 September 2001 verloop:

Die World Trade Center gedurende die aanvalle op 11 September 2001. (Foto: SETH MCALLISTER / AFP)

08:46 – Die eerste vliegtuig tref

American Airlines vlug 11 is met 92 mense waaronder vyf kapers vanaf Boston na Los Angeles onderweg. Die vliegtuig, ’n Boeing 767, word gekaap en ploeg in die Noord-toring van die World Trade Center in New York.

’n Dik wolk rook borrel uit die boonste verdiepings van die toring terwyl New Yorkers op die grond verslae toekyk.

– 09:03 – Die twee vliegtuig tref

United Airlines vlug 175 – ʼn verbindingsvlug tussen Boston en Los Angeles, dié keer met 65 mense onder wie vyf kapers aan boord – tref die World Trade Center se Suid-toring. Die impak het ʼn massiewe ontploffing tot gevolg.

– 09:05 – Bush word ingelig  

Die oomblik toe pres. George W Bush van die aanvalle in kennis gestel word. (Foto: Paul J. RICHARDS/ AFP)

Pres. George W Bush lees ’n verhaal aan laerskoolkinders in Florida voor. Sy stafhoof stel hom in kennis dat Amerika “aangeval” word.

9:30 – Bush  verbreek stilte

Bush bestempel die ontploffings as “ʼn  oënskynlike terreuraanval” tydens ’n kort mediakonferensie by die skool. Bush gelas ʼn grootskaalse ondersoek na diegene verantwoordelik vir die aanvalle.

– Pentagon word getref

Enkele minute nadat Bush vir die eerste keer praat, ploeg American Airlines vlug 77, ʼn Boeing 757, in die Pentagon net buite Washington DC in.

Die tweede vliegtuig oomblikke voordat dit die World Trade Center se Suid-toring op 11 September 2001 tref. (Foto: SETH MCALLISTER / AFP)

Dié vliegtuig was onderweg van Washington se Dulles-lughawe na Los Angeles met 64 mense onder wie vyf kapers aan boord, toe dit gekaap is.

– 9:42 – Vlugte opgeskort

Die Amerikaanse federale lugvaartadministrasie beveel dat alle kommersiële vlugte in die VSA so vinnig as moontlik land. Die vertrek van alle vlugte is kort tevore gestaak.

09:59 – Suid-toring stort in duie

Amerikaanse brandbestryders stap deur die puin ná die World Trade Center op 11 September 2001 ineengestort het. Verskeie nood-en-reddingswerkers is dié dag dood. (Foto: DOUG KANTER / AFP)

Die Suid-toring van die World Trade Center stort 56 minute nadat dit getref is in ʼn groot wolk rook en stof ineen.

10:03 – Vliegtuig stort neer in Pennsylvania

United Airlines vlug 93, ʼn Boeing 757 van Newark na San Francisco met 44 mense aan boord onder wie vier kapers, stort neer in ʼn veld naby Shanksville, Pennsylvania. Passasiers en bemanningslede het die kapers oorrompel nadat hulle van die ander aanvalle verneem het.

– 10:28 – Noord-toring stort in duie

Die Noord-toring van die World Trade Center stort ineen, ʼn uur en 42 minute nadat dit getref is. ʼn Groot stofwolk hang oor Manhattan.

– 20:30 – President se toespraak

Bush veroordeel die aanvalle as “bose, veragtelike terreurdade” in ’n toespraak by die Oval-kantoor in Washington DC.

Amerikaners in Brooklyn, New York, kyk verslae toe op 11 September 2001. (Foto: HENNY RAY ABRAMS / AFP)

Amerikaanse brandbestryders ná die World Trade Center op 11 September 2001 ineengestort het. Verskeie nood-en-reddingswerkers is dié dag dood. (Foto: DOUG KANTER / AFP)

Amerikaanse brandbestryders stap deur die puin ná die World Trade Center op 11 September 2001 ineengestort het. (Foto: DOUG KANTER / AFP)

Bykomende bron: NPR

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Skappie ·

Ek het eers gedink ek is besig om na ‘n rolprent te kyk. Het eers later besef hierdie is die werkilikheid. Kan nie dink hoe die mense moes bang gewees het nie. So jammer dat daar iemand is wat ander mense se lewens geneem het.

Samuel ·

En wie is te blameer? Islam. Waarom word hulle steeds met handskoene hanteer?

Jack ·

Islam en kommunisme het dieselfde eind doel, naamlik wereled oorheersing. Kommunisme roem daarop dat dit ateisties is en maak aanspraak op rasionele denke. Islam roem daarop dat dit ‘n godsdiens is en maak aanspraak daarop dat dit aanhangers se eniste weg na die hiernamaals is. Albei is gebaseer op die groot leuen, naamlik dat dit hemel op aarde vir die mense kan skep.

Kenny ·

Nie Islam nie. Die ekstremistiese Islam groepe. Baie mense dink alle Islam mense is terroriste. Dis eenvoudig net nie so nie.

Robert ·

Hoekom tree die gematiges dan nie op teen die extrimiste nie?

Cherokee ·

Kenny, ‘n ‘gematigde’ moslem is gevaarliker as ‘n ekstrimistiese moslem, want die ekstrimis wil Christene vermoor, terwyl die gematigde die Christene se geloof aanval.
Die gematigde moslem kan dus ‘n gevaar wees op sy eie.

Snowball ·

@ Kenny – Alle Islams is nie ekstremiste nie, ongelukkig is alle ekstremiste wel Islam.

Thom ·

Nadat trompie boedel oorgegee het en onderneem het om teen 1 Mei 2021 die soldate uit te gehad het . Vergewis jouself eers van die werklike feite .

Robert ·

Aaai Thom… slaan jou naam met die spreekwoordelike plank… Trump se plan was om geleidelik uit te trek, nie halsoorkop soos Biden nie…

Thom ·

Seker maar net nog een wat nie kan lees nie ___ hy het onderneem om die onttrekking teen 1 Mei af te handel en Biden het sy gemors geerf .

Robert ·

Beslis hulle… en nou na 20 yaar is ons back to square one…

Niklaas ·

Ek onthou presies waar en waarmee ek besig was toe ek vertel was van hierdie ramp, soos miljoene ander mense. So skokkend en onwerklik was daardie nuus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.