Steeds g’n gasheer vir Statebondspele

Die afsluitingseremonie van die Statebondspele wat in 2022 in Birmingham, Engeland, aangebied is. (Argieffoto: Glyn Kirk/AFP)

Maleisië het weens die groot koste daaraan verbonde besluit om nie die Statebondspele in 2026 aan te bied nie. Dit het Vrydag tot hernieude twyfel oor die toekoms van die internasionale skouspel gelei.

Die besluit, wat geneem is tydens ʼn kabinetsvergadering onder leiding van die eerste minister, Anwar Ibrahim, volg op verlede jaar se onttrekking as gasheer van die Australiese staat Victoria.

“Die departement van jeug en sport het vandag die regering se besluit bekend gemaak om nie die aanbod van die Statebondspelefederasie (CGF, Commonwealth Games Federation) om die Spele in 2026 aan te bied, te aanvaar nie,” het min. Hannah Yeoh in ʼn verklaring gesê.

Die CGF het Maleisië en ander moontlike gashere £100 miljoen (sowat R2,3 miljard) aangebied om die Spele, wat veronderstel is om oor minder as twee jaar plaas te vind, aan te bied.

Die Maleisiese regering sê die aanbod “sal na verwagting nie die ganse koste dek om ʼn byeenkoms van so ʼn groot skaal aan te bied nie”.

“Die regering wil fokus op die ontwikkeling van sport, asook die welstand en welsyn van die mense,” het Yeoh gesê.

Volgens ʼn woordvoerder van die CGF sal ʼn soektog na ʼn gasheer vir die skouspel voortgesit word.

“Ons is teleurgesteld dat Maleisië besluit het om nie ʼn voorstel vir die Statebondspele in 2026 in te dien nie, maar bedank hulle vir hul werk tot dusver en hul verbintenis tot die Statebond-sportbeweging,” het die woordvoerder gesê.

“Die vertroulike proses om ʼn gasheer te bepaal gaan voort met ander belangstellende Statebondspele-verenigings.”

Victoria se skielike besluit, en die gebrek aan ʼn ooglopende alternatief, het vrae oor die toekoms van die Statebondspele geskep. Die skouspel vind elke vier jaar plaas en is in 2022 in Birmingham, Engeland, aangebied.

Die relevansie van die byeenkoms, met die meeste spanne afkomstig uit voormalige Britse kolonies, is onder die soeklig te midde van voortgesette vrae oor die Verenigde Koninkryk se koloniale nalatenskap.

Birmingham het tydens die laaste Statebondspele op betreklike kort kennisgewing as gasheer ingespring nadat Suid-Afrika – meer spesifiek Durban – gedwing is om weens verskeie redes, waaronder finansiële probleme, kop uit te trek.

Die CGF het vroeër vandeesmaand Maleisië se “fantastiese geskiedenis” geloof. Die land het in 1998 ook die Spele aangebied. Die CGF het egter ook daarop gesinspeel dat Maleisië nie die enigste land is wat hy genader het om die Spele moontlik aan te bied nie.

Singapoer het ook onlangs gesê hy kyk na die lewensvatbaarheid van die CGF se voorstel.

Die welvarende stad-staat bied die jaarlikse Formule Een-nagwedren aan, asook die Wêreld-watersportkampioenskap volgende jaar.

‘Roekeloos’

Die vooruitsig dat Maleisië die Statebondspele moontlik sou aanbied, het ʼn heftige debat veroorsaak.

Mohamad Norza Zakaria, president van die Statebondspelevereniging van Maleisië, het dit ʼn “een keer in ʼn leeftyd”-geleentheid genoem wat die land weer ʼn gerekende een op die sportlandskap sou maak.

Twyfel het egter verlede week al hoe duideliker geword nadat huidige en voormalige senior beamptes hul voorbehoud daaroor te kenne gegee het.

Khairy Jamaluddin, ʼn voormalige minister van jeug en sport, het die voorneme as “roekeloos” bestempel omdat daar weinig tyd vir behoorlike beplanning is.

Enige gasheer sou minstens vier jaar nodig hê om venues op te knap, borgskappe te beplan en infrastruktuur gereed te kry, het hy gesê.

“Die Statebondspele is nie ʼn noemenswaardige groot sportgeleentheid nie,” het hy gesê. “Wat veelsportspele betref, kom dit nie eens naby die Olimpiese Spele of selfs die Asiese Spele wat betref deelname, blootstelling en opbrengs nie,” sê Jamaluddin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.