Stephen Hawking langs Newton, Darwin begrawe

Prof. Stephen Hawking op 6 Maart 2017 tydens ‘n geleentheid in Londen. Foto: AP Photo/Matt Dunham, File

Die wêreldbekende fisikus, Stephen Hawking, wat op 14 Maart in die ouderdom van 76 by sy huis in Cambridge in Engeland dood is, se as gaan in Westminster Abbey naby die grafte van sir Isaac Newton en Charles Darwin begrawe word.

Eerwaarde dr. John Hall, dekaan van Westminster Abbey, het vandeesweek in ʼn verklaring gesê dit is ʼn “gepaste” huldeblyk aan die Britse fisikus.

“Ons glo dit is belangrik dat die wetenskap en geloof saamwerk om antwoorde te soek op die groot vrae en raaisels van die lewe en die heelal,” het hy gesê.

Hawking se kinders, Lucy, Robert en Tim, het volgens die BBC besluit om sy as in Cambridge te begrawe weens Hawking se verbintenis met dié dorp waar hy langer as 50 jaar gewoon en gewerk het.

Hall het gesê ʼn dankseggingsdiens sal later vanjaar ter ere van Hawking in die kerk aangebied word. ʼn Private roudiens sal op 31 Maart vir die ontslape fisikus gehou word.

Newton, ʼn wiskundige, sterrekundige en teoloog, is in 1727 in die Abbey begrawe en Darwin, ʼn natuurkundige, ʼn eeu en ʼn half later in 1882. Die Westminster Abbey word beskou as een van die wêreld se mees gesogte kerke. Die kerk het ʼn geskiedenis van meer as 1 000 jaar.

Maroela Media het vroeër berig Hawking se kinders het in ʼn verklaring gesê die briljante wetenskaplike is rustig in sy slaap oorlede. Hawking is op die ouderdom van 21 jaar met amiotrofiese laterale sklerose (ook bekend as motorneuronsiekte) gediagnoseer wat hom uiteindelik aan ʼn rolstoel vasgekluister gelaat het. Hy kon ook nie meer self praat nie en het ʼn rekenaar gebruik om ʼn stem te genereer waardeur hy gekommunikeer het.

Prof. Brian Cox, die Britse fisikus, het kort ná Hawking se dood gesê die fisikus se bydrae tot die wetenskap sal gebruik word solank daar wetenskaplikes is. “En daar is soveel meer wetenskaplikes vandag te danke aan hom. Wat ʼn merkwaardige lewe.”

Hawking was een van die wêreld se grootste kundiges oor swaartekrag en swartkolke. Hy is op die ongewone jong ouderdom van 32 jaar aangewys as ʼn genoot van die Royal Society, Brittanje se mees gesogte akademiese instansie. In 1979 is hy aangewys as Lucasian-professor in wiskunde aan Cambridge University – dieselfde pos wat deur Newton beklee is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

jaco ·

wonder wat hy sou sê van sy rusplek langs newton, want newton was nie ‘n atheis soos hawking. die briljante albert Einstein ook nie. Hierdie atheiste dink mos mense wat in God glo is dom. So was newton en Einstein ook dom?

Niel ·

Die man is dood. Wat maak dit nou saak waar sy as gaan lê. Daar is baie belangriker dinge om oor te berig of wil jul nou so commin raak soos die Son?

Paul Mardon ·

Ek verstaan nie hoe en hoekom ‘n herdenkingsdiens en ‘n roudiens gehou word vir iemand wat aktief gepropageer het dat God nie bestaan nie en wat Christine bespot het!

Karien ·

Paul, hierdie is nie soos ons dit ken nie, hier gaan God nie eers genoem word nie. Dis net n gepraat oor wie hom gaan mis en hoe goed hy dit en dat gedoen het en dan sit hulle hom in die grond, sonder n gebed of n gesang.

Valerie ·

Ja, wonder wat die briljante wetenskaplike gesê het toe hy die Skepper aangesig tot aangesig ontmoet het. Sy menslike kennis was toe niks werd. So is dit maar met hulle almal. Wie was die ander een wat die Skepper so bespot het? Carl Sagan . . . shame.

Rooiman ·

HA! Hy het geglo God bestaan nie. Wonder wat seg hy nou? Behalwe vir die warm kry…

Oom Kalahari ·

Sovele het hierdie man met sy Wetenskaplike stellings aangehang, m aar vir my was dit weer hartseer dat hy my God van die Heelal so kon belaster. Al wat ek kans se Prof Stephen Hawkings is dat God jou die kennis en insigte gegee het asook dat jy vandag met ope arms in SY Huis ontvang sal word. Rus in vrede.

DHK ·

Oom Kalahari, so jy besluit sommer dat Hawking ten spyte van sy verwerping van God, deur God vandag met ope arms in die hemel ontvang word?? Sonder berou oor sy sonde? Sonder bekering tot God? Kan jy jou stelling motiveer vanuit die Skrif? Agge nee oom, jy sit die pot totaal en al mis…

Oom Kalahari ·

@DHK, dalk sit ek die pot mis met jou stelling, maar God het sy enigste Seun aan die kruis laat sterf vir ons almal se sondes en tot die moordenaar wat langs Hom gekruisig was. Hoe weet ek of jy wat Stephen Hawkings se laaste oomblikke was en wat hy wel weet of besef het om tog sy lewe tot vergifnis te wend. God is Liefde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.