Stephen Hawking: ‘Wat ʼn merkwaardige lewe’

Prof. Stephen Hawking op 30 Maart 2015 by die Interstellar Live-vertoning in Londen.Foto: Joel Ryan/Invision/AP, File

Huldeblyke aan die wêreldbekende fisikus, Stephen Hawking, wat Woensdag in die ouderdom van 76 by sy huis in Cambridge in Engeland gesterf het, stroom sedertdien in op sosiale media.

“Sy heengaan het ʼn intellektuele vakuum agtergelaat. Maar dit is nie leeg nie. Dink daaraan as ʼn tipe vakuum van energie wat die stof van ruimtetydsduur deurdring en alle metings oorkom,” het Neil deGrasse Tyson, bekende Amerikaanse astrofisikus, op Twitter gesê.

Prof. Brian Cox, die Britse fisikus, het gesê Hawking se bydrae tot die wetenskap sal gebruik word vir so lank as wat daar wetenskaplikes is. “En daar is soveel meer wetenskaplikes vandag te danke aan hom. Wat ʼn merkwaardige lewe.”

David Schneider, die Britse akteur en regisseur, het getwiet: “Jy kan amper voel dat die wêreld minder helder, ʼn minder ongelooflike plek vandag is. RIV Stephen.”

Maroela Media het vroeër berig Hawking se kinders het in ʼn verklaring gesê die briljante wetenskaplike is rustig in sy slaap dood. Hawking is op die ouderdom van 21 jaar met amiotrofiese laterale sklerose (ook bekend as motorneuronsiekte) gediagnoseer wat hom uiteindelik aan ʼn rolstoel vasgekluister gelaat het. Hy kon ook nie meer self praat nie en het ʼn rekenaar gebruik om ʼn stem te genereer waardeur hy kommunikeer het.

Sy prestasies ten spyte van sy aftakelende siekte het aan baie ander bewys dat selfs die ernstigste gestremdhede jou nie kan keer om te leef nie. Lucy, Hawking se dogter, het op ʼn tyd gesê haar pa het ʼn uitputtende “onvermoë om te aanvaar daar is enigiets wat hy nie kan doen nie”.

Prof. Stephen Hawking op 6 Maart 2017 tydens ‘n geleentheid in Londen. Foto: AP Photo/Matt Dunham, File

Hawking het in 1997 aan The Associated Press gesê: “Ek aanvaar daar is sommige dinge wat ek nie kan doen nie. Maar dit is meestal goed wat ek in elk geval nie regtig wil doen nie.” Hy het breed geglimlag en bygevoeg: “Ek is blykbaar daartoe in staat om enigiets te doen wat ek regtig wil.”

Hawking was ʼn briljante fisikus wat die wetenskaplike wêreld vir ewig verander het, maar hy was ook wêreldwyd bekend in nie-wetenskaplike kringe. Hy het in die fliek Star Trek: The Next Generation verskyn, het sy eie stem gedoen vir sy “verskyning” in die animasiereeks The Simpsons en het ook gereeld in die bekende televisiereeks The Big Bang Theory verskyn.

Hawking het ook die topverkoper A Brief History of Time geskryf. Meer as 9 miljoen kopieë van dié boek is verkoop, maar baie lesers het nie die boek klaargelees nie. Dit is al bestempel as “die topverkoper wat die minste ooit gelees is”.

“Sy bydrae was om met die publiek te skakel op ʼn manier wat nog nie weer gebeur het sedert Einstein nie,” het Wendy Freedman, direkteur van die Carnegie Observatories, gesê. “Hy het ʼn ikoon geword vir ʼn verstand wat verhewe is bo gewone sterflinge. Mense verstaan nie presies wat hy sê nie, maar hulle weet hy is briljant. Daar is miskien ʼn menslike element van sy stryd wat maak dat mense stilstaan en aandag gee.”

Hawking was een van die wêreld se grootste kundiges oor swaartekrag en swartkolke. Hy is op die ongewone jong ouderdom van 32 jaar aangewys as ʼn genoot van die Royal Society, Brittanje se mees gesogte akademiese instansie. In 1979 is hy aangewys as Lucasian Professor van Wiskunde by Cambridge University – dieselfde pos wat deur Isaac Newton beklee is.

Die skrywer Geraldine DeRuiter het Woensdag op Twitter geskryf: “Ons was op dieselfde tyd as Stephen Hawking op die aarde. Dit is nogal ʼn wonderbaarlike ding. Ons het dieselfde suurstof ingeasem as die man wat die sterre ontsyfer het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Philip ·

Oudste Hierdie is werklik nie nou die tyd of plek om te preek nie, hoekom moet alles gedurig in ‘n gepreek ontaard? Hoeveel van sy werke het jy al gelees?

Eish ·

Hy het ontdekking dat alles deur natuurlike prosesse tot stand gekom het en dat daar nie n Skepper bestaan nie.

Oudste ·

Ek preek nie, my stelling is ‘n feit en natuurlike prosesse bestaan uit chemiese bestanddele asook fisika en wiskundige formules. Ons ontdek maar net die wonderwereld van die Skepper se werke, op ons reis deur tyd, plek en gebeure op aarde.

Wonder maar net ·

Ek is jammer ek wonder, maar as hy op die ouderdom van 21 rolstoel verbonde was. was sy 3 kinders dan proefbuis babas. Ek het probeer na lees daaroor maar sien niks nie.
RIV

Wonder nie verder ·

Hy is op 21 gediagnoseer. Eers later aan rolstoel verbonde

lizl ·

Hierdie man is `n voorbeeld vir die jongmense van vandag. Julle outjies wat nog op ma en pa se nek lè… Hierdie man was so getremd en kyk wat het hy vermag ! Wat kan ons wat gesondheid het dan nie doen ? Staan op en maak iets van jou lewe !

realis ·

Sy dood is vergelybaar met ‘n biblioteek vol kosbaarhede wat afgebrand het.

jaco ·

Briljante verstand maar volslae atheïs. Selfs die geniale Albert Einstein het in God geglo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.