Sterftes aangemeld ná Nieu-Seeland aardbewing

Winkelvensters in Wellington het gebreek nadat na-skokke van ʼn aardbewing Nieu-Seeland Maandag (14 November 2016) getref het. Foto: Ross Setford/SNPA via AP

Winkelvensters in Wellington het gebreek nadat na-skokke van ʼn aardbewing Nieu-Seeland Maandag (14 November 2016) getref het. Foto: Ross Setford/SNPA via AP

Twee mense het gesterf in ʼn kragtige aardbewing wat Nieu-Seeland Sondag geruk het.

Maroela Media het vroeër berig die land se departement van burgerlike verdediging en noodbestuur het ‘n tsoenami-waarskuwing uitgereik na die aardbewing van 7,8 op die momentmagnitudeskaal. Die episentrum was 91 km noordoos van die stad Christchurch.

Sterk na-skokke het die land steeds Maandag geskud, nadat duisende mense reeds hul huise in laagliggende gebiede ontruim het uit vrees vir die golwe van ʼn tsoenami. Die aarde het ʼn groot skeur gemaak by die episentrum van die aardbewing, wat paaie verwoes en modderstortings veroorsaak het.

Die aardbewing het ook skade in Wellington, meer as 200km noord, veroorsaak. Een mens is dood in die klein kusdorp, Kaikoura en nog een in Mt.Lyford, ʼn nabygeleë ski-oord. Die polisie het bevestig verskeie beserings is ook aangemeld.

Deel van ʼn modderstorting langs ʼn pad in Kaikoura, Nieu-Seeland. (14 November 2016). Foto: AP Photo / Angela Morgan)

Deel van ʼn modderstorting langs ʼn pad in Kaikoura, Nieu-Seeland. (14 November 2016). Foto: AP Photo / Angela Morgan)

Nooddienste het bevestig uitgebreide skade aan infrastruktuur in Kaikoura bevestig. Die hoofpad is heeltemal deur modderstortings afgesper en ʼn paar toeriste in karavaankampe noord en suid van die dorp moes per helikopter ontruim word. Krag en watertoevoer in die dorp is afgesny en daar was geen selfoonopvangs in die dorp nie. Honderde toeriste is uit die dorp se hotelle ontruim.

John Key, die eerste minister, sou Maandagmiddag per helikopter na Kaikoura reis. Key het gesê golwe van ongeveer 2m is by die kus aangemeld, maar die tsoenami-waarskuwing is intussen afgegradeer na kuslynwaarskuwings. Hy het gesê die owerhede het geen rede om te glo nog sterftes sal aangemeld word nie.

Hy het bygevoeg die regering het besluit om nie ʼn nasionale ramp te verklaar nie, aangesien die land se streke voldoende toegerus is om die situasie te hanteer.

Dit is egter duidelik dat die skade wat deur die aardbewing aangerig is nie naastenby so groot is soos die verwoestende aardbewing van Februarie 2011 wat ongeveer $25 miljard se skade aangerig en die lewe van 185 mense geëis het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

En so skree die aarde sy misnoë met die mensdom uit…maar ons het doof geraak vir die aanklag teen die mensdom se verandwoordelikheid teenoor die skepping

Anna ·

Ek stem saam met Johann: God praat met die mensdom. Alles tekens van die eindtye.

charmaine ·

Stem 100% saam met Johann. Selfs die vloede hierin Gauteng, JHB dit is omdat die mens nie luister en raak sien dat God moeg is vir ons ongeloof, twyfel, moord, haat, en alles wat ons verkeerd doen. Ek se ook ons in so dankbaar vir die reen maar dis ook n manier vir God om die aarde skoon te maak en ons oe en ore te laat oop gaan. Sterkte aan die mense daar het vriende in NZ.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.