Sterftes neem toe op oorvol Everest

ʼn Lang ry bergklimmers op Everest (22 Mei 2019) (Foto: Nimsdai Project Possible via AP)

Minstens 11 persone is reeds dood op Everest sedert die begin van vanjaar se bergklimseisoen, hoofsaaklik weens te veel mense wat die kruin wil bereik.

Owerhede in Nepal word veroordeel omdat die getal permitte om dié berg te klim nie beperk word nie. Dit het daartoe gelei dat onervare klimmers ander persone verhinder het en dit het vertragings op die berg veroorsaak.

“Daar was baie meer mense op Everest as wat daar veronderstel is om te wees,” het Kul Bahadur Gurung, algemene sekretaris van die Nepal Mountaineering Association, ʼn sambreelgroep vir alle bergklimoperateurs in Nepal, gesê.

Dit is die hoogste getal sterftes sedert 2015. Meeste persone is weens hoogtesiekte dood wat veroorsaak woord deur ʼn gebrek aan suurstof op hoë hoogtes. Simptome sluit hoofpyn, vomering, kortasem en verwarring in.

Weens die hoogte het bergklimmers net ʼn paar uur om die kruin te bereik voor hulle die risiko loop om pulmonêre edeem op te doen (waar die longe met vog vul). Van Kamp Vier op 8 000 m tot die kruin op 8 850 m, die laaste deel op Everest, staan as die “doodsone” bekend. Toestande is só erg dat, wanneer ʼn persoon sterf, niemand kan bekostig om ekstra energie te gebruik om die liggaam weer na onder te dra nie.

“Elke minuut is kosbaar,” sê Eric Murphy, ʼn gids van Bellingham, Washington. Hy het Everest op 23 Mei vir die derde keer geklim. Hy het gesê dit was veronderstel om 12 ure te duur, maar dit het 17 ure geduur weens onervare klimmers wat duidelik uitgeput was maar niemand gehad het wat hulle kon help of lei nie. “Slegs ʼn handjievol onervare klimmers kan ʼn beduidende impak hê.”

Nepal het nie enige reëls om te bepaal hoeveel permitte uitgereik mag word nie. Enigiemand met ʼn doktersbrief kan dus ʼn permit bekom teen $11 000, sê Mohan Krishna Sapkota, sekretaris van die ministerie van toerisme en burgerlike lugvaart.

Altesaam 381 permitte is vanjaar uitgereik – die hoogste getal ooit, aldus die regering. Hulle word vergesel deur 381 gidse van Nepal se plaaslike Sherpa-gemeenskap. Van die klimmers se permitte is reeds in 2014 uitgereik, maar toe in die middel van die seisoen teruggetrek is toe 16 Sherpas dood is in ʼn sneeustorting en ander Sherpas, wie se ondersteuning as gidse en portiere noodsaaklik is, begin staak het.

Sapkota skryf egter vanjaar se sterftes toe aan die weer, toerusting en ondoeltreffende bykomende suurstof, in plaas van ʼn oorvol Everest. “Daar was kommer oor die getal bergklimmers op Everest, maar dit is nie weens die verkeersknoop dat daar sterftes was nie,” het hy gesê. “Ons sal met die volgende seisoen seker maak daar is meer toue in die gebied onder die kruin om seker te maak die vloei van bergklimmers word beter beheer.”

Sapkota het gesê die getal mense wat Everest wil klim sal nie beperk word nie, en die Nepalese regering sal selfs nog meer toeriste en bergklimmers aanmoedig “om vir hul plesier en roem” die berg te kom klim.

Mirza Ali, ʼn bergklimmer van Pakistan wat ná vier pogings Everest se kruin vandeesmaand vir die eerste keer kon bereik, het gesê die Nepalese regering se benadering is foutief. “Almal wil op die kruin van die wêreld staan, maar toeriste wat nie voorbereid is op die uiterste toestande van Everest nie, hou ʼn bedreiging in vir die hele bedryf. Permitte word uitgereik sonder behoorlike ondersoek. Hoe meer mense kom, hoe meer permitte word uitgereik en hoe meer geld word gemaak. Maar aan die ander kant is dit ʼn groot risiko, want lewens word geëis.”

Ameesha Chauhan van Indië sterk in die hospitaal aan nadat sy vriesbrand op haar tone opgedoen het. Sy het vertel hoe tragies dit was toe sy van die kruin moes omdraai toe sy besef haar suurstofvoorraad is te laag. Twee van haar spanlede is op 16 Mei oorlede. Sy het ʼn week later teruggekeer en kon die kruin bereik. “Meeste bergklimmers fokus te veel op die kruin. Hulle is ʼn risiko vir hulself en ander.”

Maroela Media het vroeër berig een van Saray N’kusi Khumalo, ʼn sakevrou van Johannesburg en die eerste swart vrou uit Afrika om die piek van berg Everest te bereik, se medeklimmers het gesterf nadat hulle net vroeër die dag die piek bereik het.

Meer as 300 persone is sedert 1922 op Everest dood. Altesaam 19 persone is in 2015 op die berg dood toe ʼn aardbewing ʼn sneeustorting veroorsaak het. Vyf bergklimmers is in 2018 op Everest dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elna

Ek vries tot in my binneste as ek die ys so sien op die berg. Daardie mense het regtig ” guts” soos die engelse sal se. Dit lyk meer as net veeleisend en dis bibber koud op daardie berg.

Ekke

Eish baie koue eish

LD

$11 000 ??? En jyt ñ baie goeie kans om dood te gaan….. nee wat, ek betaal nie vir my dood nie! Beslis nie $11 000 nie!!

Anoniem

Ek kan my nie voorstel dat enige regdenkende mens amper R150 000 gaan betaal om ontbering te ly en in rye te gaan staan (klim) nie. Nee man! Dan gaan ek eerder Poskantoor toe of lisensiekantore toe en dit kos my net my transaksie.

Kobus

As hulle minder klimmers op ń slag toelaat sal daar mos genoeg suurstof vir almal wees?