Sterftes, verwoesting terwyl brande in Australië voortwoed

Honderde brande woed steeds in Australië. (Foto: Twitter)

Minstens drie mense is dood, terwyl tientalle verwoestende bosbrande buite beheer in vier van Australië se agt state voortwoed. Rekordhoë temperature is boonop in dié tyd in die land aangemeld.

Twee brandbestryders is Donderdagaand dood terwyl hulle probeer het om ʼn bosbrand wat sowat 90 km buite Sydney woed, onder beheer te bring. Die brand het deur verskeie dorpe versprei.

In Suid-Australië is nog ʼn persoon dood in ʼn motorongeluk nadat ʼn katastrofiese brandgevaar oor groot dele van die staat verklaar is, het premier Steven Marshall Vrydag gesê.

Meer as 500 brandbestryders is ontplooi om die nagenoeg 120 brande te bestry. Dit bedreig verskeie dorpe, terwyl talle huise en ander geboue reeds in die brande verwoes is.

Suid-Australië ervaar die afgelope twee dae uiters hoë temperature en Adelaide het Vrydag ʼn temperatuur van 46 °C bereik. Op sommige ander plekke in die streek het die kwik tot digby 50 °C gestyg.

In Victoria bedreig bosbrande ook verskeie dorpe, terwyl die gebied steier onder die bykans ongekende hitte. Melbourne stik in die rook van bosbrande wat uit Nieu-Suid-Wallis, sowat 800 km noord van die stad, daarheen gewaai het.

Teen vanoggend het sowat 65 bosbrande nog in Queensland gewoed. Dié staat probeer al sedert September om verwoestende brande te stuit. Nagenoeg 43 huise en 240 000 ha grond is reeds verwoes.

Die dood van die twee brandbestryders in Nieu-Suid-Wallis bring die dodetal in vanjaar se brandseisoen op agt te staan.

Die vlamme is in sommige gevalle tot 60m hoog en suig die suurstof uit die lug. (Foto: Twitter)

Die vrywilligers is dood toe die brandweerwa waarin hulle gery het naby die dorp Buxton ʼn boom getref en van die pad af gerol het.

“Dit is ʼn verpletterende voorval in wat reeds ʼn ongelooflik moeilike dag én brandseisoen was,” het die staat se Landelike Branddiens gesê.

Die voorval kom skaars ure na ʼn weeklange noodtoestand in Nieu-Suid-Wallis afgekondig is. Meer as 1 700 brandbestryders het omtrent 100 bosbrande in dié staat bestry.

Volgens die owerhede is 40 huise Donderdag in bosbrande in die gebied waar die brandbestryders dood is, verwoes.

Die bevelvoerder van Nieu-Suid-Wallis se brand-en-reddingseenheid, Kernin Lambert, het na die brand as grusaam verwys. Nooddienswerkers spook teen wind van meer as 100km/h, terwyl vlamme in sommige gevalle hoogtes van tot 60 m bereik en die suurstof uit die lug suig.

ʼn Noodwaarskuwing geld steeds vir die Gospersberg-megabrand in die noordweste van Sydney, waar 420 000 ha reeds afgebrand het.

Die owerhede het gewaarsku dat ʼn katastrofiese brandgevaar die groter Sydney-gebied en twee ander streke daar in die gesig staar. Temperature gaan na verwagting Saterdag die middel 40’s bereik.

Nagenoeg 800 huise is sedert Oktober al verwoes.

Eerste minister Scott Morrison, wat skerp gekritiseer is omdat hy tydens die verwoestende brande saam met sy gesin in Hawaii gaan vakansie hou het, het aangekondig dat hy die vakansie kortknip.

Hy het ook gesê hy betreur enige aanstoot wat geneem is omdat hy met vakansie vertrek het terwyl die bosbrandkrisis voortduur. Hy keer Saterdag na die land terug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.