Sterftesyfer styg steeds ná Europese oorstromings

Talle inwoners sit nou dakloos en hul toekoms is in hierdie stadium onseker (Foto: Christof Stache, AFP)

Die dodetal weens verwoestende oorstromings in Europa het Dinsdag tot minstens 200 gestyg, met 169 van dié sterftes wat in Duitsland aangeteken is.

Die weste van Duitsland het die ergste deurgeloop onder die oorstromings wat ook België, Luxemburg en Nederland getref het en strate en huise onder modderwater gelaat het. Talle gemeenskappe is heeltemal afgesny van die buitewêreld.

Reddingswerkers sê meer liggame gaan waarskynlik in oorstroomde kelders en huise wat meegegee het, gevind word.

Die Duitse staat Rynland-Palts – wat die kwaaiste deur die oorstromings getref is – het soveel as 121 sterftes aangemeld.

In België het die sterftesyfer tot 31 gestyg en talle mense word steeds vermis.

Maroela Media het vroeër berig swaar reënval het voor die naweek skielike stygings in watervlakke veroorsaak en talle huise en infrastruktuur het in duie gestort of weggespoel. Paaie is verwoes en brûe vernietig. Intussen word honderde mense steeds vermis terwyl nooddienswerkers skarrel om hulpverlening te bied.

Talle huise en infrastruktuur het in duie gestort of weggespoel (Foto: Christof Stache, AFP)

Reddingswerkers het Saterdag verbete gesoek na oorlewendes en slagoffers.

Talle inwoners sit nou dakloos en hul toekoms is in hierdie stadium onseker.

Carina Dewald, ’n 39-jarige ma van Dernau, het alles verloor toe vloedwater deur dié Duitse dorp gewoed het. Die vulstasie waar sy saam met haar man as bestuurder gewerk het, is deur die watermassa met die grond gelykgemaak en haar huis is onbewoonbaar gelaat.

“Ek dink ons sal in staat wees om terug te gaan na ons huis, maar op hierdie oomblik neem ek elke dag soos dit kom,” het sy gesê. “Ek is tegnies nou haweloos en werkloos.”

Dewald en haar gesin woon tydelik in haar skoonpa se woonstel, maar daar het hulle nie toegang tot water of elektrisiteit nie.

Dewald is een van duisende mense wie se lewens ontwrig is deur die oorstromings.

Die inwoners van Dernau, ʼn dorpie met 1 800 inwoners geleë in die Ahrweiler-streek, vrees dat dit maande kan duur voordat hul lewens weer tot normaal kan terugkeer.

“Die dorp sal nie herstel nie,” het die eienaar van ’n wingerd gesê nadat hy ’n hele kelder vol wyn verloor het.

Peter Schnitzler (55), die bestuurder en hoofkok van ʼn plaaslike hotel, sê hy is ook bang dat sy hotel se deure nie weer sal oopmaak nie.

Weldoeners spring in

Met winkels wat vernietig is en motors wat deur die oorstromings meegesleur is, moes baie dorpenaars op vrywilligers staatmaak om basiese kos te voorsien, warm maaltye te kook en matrasse en kragopwekkers te verskaf.

Timo Tillmann (31) het 250 km van Osnabrück na Bad Neuenahr-Ahrweiler afgelê en deur die stad gery met ʼn bussie vol rys, pasta, T-hemde, tandepasta en doeke.

Minuut van stilte

Reddingswerkers sê meer liggame gaan waarskynlik in oorstroomde kelders en huise wat meegegee het, gevind word (Foto: Christof Stache, AFP)

België het Dinsdag ’n minuut van stilte gehou ter herinnering aan almal wat tydens die oorstromings omgekom het.

Die Belgiese koning Philippe en koningin Mathilde het hul medelye betuig by die brandweerstasie in Verviers, een van die stede in België wat die swaarste getref is.

Net voor die minuut van stilte het brandweerstasies regoor die land hul sirenes geaktiveer. Bus-, trem- en metrotreindienste in Brussel, die hoofstad, het ook tot stilstand gekom.

Die Belgiese vlag asook dié van die Europese Unie het in die hoofstad halfstok gehang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.