Stootwaentjies wag vir vlugtelinge met babas

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash / Micael Widell)

’n Foto van stootwaentjies wat vir Oekraïense vlugtelinge met kinders by ’n treinstasie in Pole gelaat is, het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Die foto is deur die fotograaf Francesco Malavolta geneem en Maandag op sy Twitter-profiel gedeel en het hartsnare regoor die wêreld geroer.

Die waentjies is deur Poolse ouers op die Przemysl-treinstasie naby die grens tussen Pole en Oekraïne gelaat. Die oogmerk was om Oekraïense ouers by te staan wat met jong kinders voor die Russiese oorlog in dié land vlug. Die stootwaentjies is volledig toegerus en sommiges het selfs babasakke gehad.

AFP het Dinsdag berig dat meer as twee miljoen mense nou al uit Oekraïne gevlug het, van wie baie vroue en kinders is.

Die vlugtelingkrisis volg ná Rusland se volskaalse inval in Oekraïne op 24 Februarie. Volgens die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap het 276 244 mense net in die afgelope twee dae na ander Europese lande gevlug.

“Met mans tussen die ouderdomme van 18 en 60 wat ingevolge ’n krygswetbevel gedwing word om in Oekraïne te bly en te veg, het beelde van vlugtende ma’s en kinders die wêreld se aandag aangegryp,” het die internasionale nuusblad ABC News Dinsdag berig. In Medyka, ’n dorpie naby die grens in Suidoos-Pole, word ma’s en babas wat dae lank gereis het nou begroet met voorrade wat geskenk is en wat wissel van babakos tot doeke en sneeupakke.

“Die ding wat my opgeval het voordat ek die foto geneem het, was die afwesigheid van mense by die treinstasie terwyl mense twee meter verder in kilometer lange toue gestaan het. Dit het surrealisties gelyk,” het Malavolta aan ABC News gesê.

“Ek het aan die Poolse én die Oekraïense ouers gedink – oor die solidariteit van diegene wat die stootwaentjies gebring het, en die dramatiese verhale van moeders wat voor die oorlog vlug.”

Malavolta het Maandag ook ʼn foto getwiet wat wys hoe stootwaentjies by die grens tussen Slowakye en Oekraïne staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Janine ·

Dis absoluut hartverskeurend! Mens kyk al die videos wat gedeel word, maar ONS, wat nog nooit in so situasie was nie, kan nie eens begin om die vrees en wanhoop te verstaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.