Storm maak amok in Amerika

Voetgangers in Washington DC.  (Foto: Stefani Reynolds / AFP)

’n Massiewe storm, wat met swaar sneeuval gepaardgaan, in die oostelike dele van die VSA het minstens 190 000 mense Maandag sonder krag gelaat.

Boonop het die storm honderde motorongelukke tot gevolg gehad, sowel as tornado’s en oorstromings aan sommige kusgebiede veroorsaak. Duisende vlugte moes ook noodgedwonge gekanselleer word.

Noodtoestande is intussen in Georgia, Virginia en Noord-Carolina aangekondig.

Die nasionale weerdiens het vroeër gewaarsku dat die storm – met ’n kombinasies van sneeu, sterk wind en ysige reën – die suidoostelike en mid-Atlantiese kusgebied sal tref voordat dit na New England en die suide van Kanada sal beweeg.

“Sommige gebiede in Ohio Valley-noord na die laer Great Lakes-streke kan 30 cm sneeuval verwag.

“Swaar sneeuval en ys kan ook gevaarlike reistoestande meebring, asook ontwortelde bome en kragonderbrekings,” het die weerdiens gesê.

Waarskuwings is aan meer as 80 miljoen mense uitgereik.

AFP berig dat die storm ook tornado’s in Florida tot gevolg gehad het, asook oorstromings in kusgebiede veroorsaak het. Vervoer is ook weens die storm ernstig ontwrig.

Meer as 3 000 vlugte is Sondag na en van die VSA gekanselleer, terwyl ’n gedeelte van die besige I-95-snelweg in Noord-Carolina gesluit was.

Volgens die vlugopspringswebwerf FlightAware is die meeste vlugte van en na die Charlotte Douglas Internasionale Lughawe in Noord-Carolina gekanselleer terwyl nog 1 200 vlugte vroeg Maandagoggend landwyd gekanselleer is.

Motoriste is gewaarsku om uiters versigtig te bestuur, terwyl verkeersnagmerries van Arkansas in die suide al die pad tot by Maine op die Kanadese grens toegeneem het.

Virginia se verkeerspolisie het op Twitter gesê dat hulle Sondag op sowat 1 000 ongelukke en motors wat onklaar geraak het, gereageer het. Geen sterftes is aangemeld nie.

Die storm kom enkele dae nadat erge weerstoestande honderde motoriste vroeër die maand vir langer as 24 uur op die I-95-snelweg vasgekeer het. Dié snelweg loop tot in Washington.

Die dak van ’n kollege-koshuis in Noord-Carolina het ook weens die storm ineengestort.

“Dit was angswekkend. Ek bewe nog steeds,” het Melody Ferguson, ’n student aan die Brevard-kollege aan plaaslike verslaggewers gesê.

Brian Kemp, Georgia se goewerneur, het Vrydag reeds ’n noodtoestand in dié staat afgekondig, gevolg deur Virginia en Noord-Carolina.

Sowat 38 cm se sneeu het Sondag in Noord-Carolina geval, terwyl sommige dele van Georgia en Tennessee tussen 32 cm en 33 cm se sneeuval beleef het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

FM ·

Dis geweldige weersomstandighede.

Hier was groot vloedskade en die vulkaniese aktiwitiete laat mens fokus op die krag in die natuur.

Ons is só broos en afhanklik te midde van intellektuele verklarings en navorsing.

Baie interessant

FM ·

Dis geweldige weersomstandighede.

Oor die wêreld het die vulkaniese aktiwiteite, aardbewings en hier groot vloedskade ons aandag gefokus op die krag in die natuur.

Ons is só broos en afhanklik te midde van intellektuele verklarings.

Dirk Mostert ·

Lekker ou “aardverwarming” aka “”klimaatsverandering”. Gelukkig kan daar in die tye op “hernubare krag” staatgemaak word.

Marius ·

Ons kan onsself gelukkig ag in ons land. Ons het nie sulke verwoestende weer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.