Stormloop in Suid-Korea eis meer as 150 mense

(Foto: Jung Yeon-Je/AFP)

Meer as 150 mense is Saterdag dood en byna nog soveel is beseer nadat honderde mense in ʼn nou stegie in Seoel, Suid-Korea, saamgedrom het om Halloween te vier.

Die oorvol straat het tot ʼn grusame stormloop gelei waarin minstens 151 mense, onder wie 19 buitelanders, dood is. Die buitelandse slagoffers was almal van Iran, Oesbekistan, China, Noorweë en Rusland.

Die meeste van die oorledenes is tieners of jong volwassenes, meestal vroue.

Teen die tyd dat nooddienste die toneel kon bereik, het talle liggame reeds in die straat rondgelê.

Die voorval word as een van Suid-Korea se mees tragiese voorvalle beskou.

Die stormloop het naby die Hamilton-hotel in Itaewon plaasgevind waar ʼn groot aantal mense ʼn nou stegie naby die hotel probeer binnegaan het.

Choi Seong-beom, brandweerbeampte, het gesê die stormloop het om 22:00 plaasgevind. Die meeste van die slagoffers is doodgetrap.

(Foto: Anthony Wallace/AFP)

Foto’s van die toneel wys hoe talle lyke deur lakens bedek is en hoe nooddienswerkers nog meer liggame of beseerdes in ambulanse laai.

Pres. Yoon Suk-yeol van Suid-Korea het intussen onderneem om ʼn volledige ondersoek na die voorval van stapel te stuur.

Hy het ook Sondag ʼn tydperk van nasionale rou aangekondig en in ʼn toespraak gesê dat “ʼn tragedie en ramp plaasgevind het wat nooit moes gebeur het nie”.

“Die regering sal die omstandighede rakende die voorval deeglik ondersoek en fundamentele verbeteringe aanbring om te verseker dat dieselfde ongeluk nie weer plaasvind nie,” het hy gesê.

“My hart is swaar en dit is moeilik om my hartseer te verwoord,” het hy bygevoeg voordat hy die toneel besoek het.

Dit is nog nie duidelik wat die presiese oorsaak van die stormloop was nie, buiten dat daar moontlik net te veel mense en te min polisiëring in die gebied was.

Ooggetuies het intussen na vore gekom en gru-tonele beskryf van toe hulle in ʼn stegie vasgekeer was en geskarrel het om uit die skare te kom wat bo-op mekaar begin stapel het.

Paramedici wat op die toneel was ná die stormloop sê hulle het onverpoos gewerk om mense by te bring, maar dat dit meestal ʼn verlore stryd was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

Skape wat skrik klim ook so bo-op mekaar. Baie mak skape pas in n kraal, moet net nie die wolf laat ingaan nie.

George ·

Dat so n lekker aan van feesvieringe so eindig is trageis. RIV>

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.