Strenger Covid-19-regulasies vir Namibië aangekondig

Kalumbu Shangula, die minister van gesondheid in Namibië (Foto: @MICTNamibia/Twitter via ANA)

Die minister van gesondheid het Woensdag strenger regulasies vir Namibië bekend gemaak in die stryd teen Covid-19.

Dit volg ná pres. Hage Geingob vroeër gesê het die land se gevalle het die afgelope paar weke skerp toegeneem. Namibië het tot dusver minstens 3 406 gevalle aangemeld met 22 sterftes. Meer as 20 miljoen gevalle en meer as 747 000 sterftes is wêreldwyd aangemeld.

Kalumbu Shangula, die minister van gesondheid, het in ʼn verklaring gesê al 14 streke van die land beweeg terug na, of bly op vlak 3 van die beperkingsmaatreëls onder die Covid-19-noodtoestand. Dit tree Woensdagaand om middernag in werking vir ʼn periode van 16 dae tot 28 Augustus 2020.

  • Die maatreëls wat tans van toepassing is vir Walvisbaai, Swakopmund en Arandis, is nou ook van toepassing op Stad Windhoek, insluitend Okahandja en Rehoboth vir ʼn periode van 16 dae. Reis na en van dié beperkte gebiede na die res van die land word verbied, buiten vir noodgevalle, soos in die regulasies uiteengesit. Enige persoon wat die beperkte gebiede verlaat, buiten kritieke en noodsaaklike diensverskaffers, sal op eie koste in kwarantyn moet bly wanneer hulle by hul bestemming aankom.
  • Die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling sal ook fasiliteite identifiseer waar inwoners tydelik gehuisves kan word in ʼn poging om oorbevolking in digbevolkte informele nedersettings te verlig. Plaaslike owerhede sal water en ablusiefasiliteite verseker.
  • Die verkope van alkohol word beperk tot tussen 12:00 en 18:00 op Maandae tot Vrydae en van 09:00 tot 13:00 op Saterdae. Geen alkohol mag op Sondae of openbare vakansiedae verkoop word nie.
  • ʼn Daaglikse aandklokreël word in die beperkte gebiede ingestel tussen 20:00 en 05:00 tydens die betrokke periode, tensy die persoon in besit is van ʼn gemagtigde permit as ʼn nooddiensverskaffer.
  • Skoolbedrywighede duur voort vir graad 10, 11 en 12-leerlinge. Waar van toepassing, moet leerders in koshuise bly om blootstelling te beperk, op voorwaarde dat daar nie enige Covid-19-gevalle by die skool aangemeld is nie. Tersiêre instansies, kolleges en universiteite moet weer aanlyn onderrig hervat. Kleuterskole en laerskole (graad 0 – graad 9) bly gesluit en onderrig moet op alternatiewe metodes aangebied word.
  • Openbare byeenkomste vir die res van die land word beperk tot 10 persone, insluitend troues, begrafnisse en godsdienstige byeenkomste.
  • Restaurante in beperkte gebiede word onder vlak 2-riglyne bedryf – dus slegs wegneemetes. Restaurante in ander dele van die land mag onder vlak 3-riglyne bedryf word.
  • Onder vlak 3-riglyne bly nagklubs en casino’s gesluit.
  • Werkgewers moet personeellede aanmoedig om van die huis af te werk so ver as wat dit moontlik is.
  • Lede van die publiek moet ook ʼn masker dra te alle tye in openbare plekke en sosiale distansiëring toepas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Namibia het nie ‘n KopDoek nie, en die mense klap hande en juig!

Persheks Adri ·

Haai kyk julle hulle mag rook en drink genade! Skole gaan aan en als. Hoe verstaan mens dit nou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.