‘Strictly Come Dancing’-beoordelaar sterf

Len Goodman. (Foto: Twitter/@The New York Post)

Len Goodman, ʼn voormalige professionele danser en beoordelaar op die gewilde televisiereeks, Strictly Come Dancing, is op 22 April in die ouderdom van 78 dood ná ʼn kort stryd met beenkanker.

Goodman se agent, Jackie Gill, het dié nuus Maandag op sosiale media bevestig.

“Dit is met groot hartseer dat ons aankondig dat Len Goodman in die ouderdom van 78 vreedsaam oorlede is. ’n Geliefde eggenoot, pa en oupa wat deur familie, vriende en almal wat hom geken het, gemis sal word.”

Dit was nie Goodman se eerste ervaring met dié siekte nie. Hy is ook in Maart 2009 met prostaatkanker gediagnoseer en het in 2020 ‘n operasie vir melanoomkanker ondergaan.

Goodman het van 2004 tot 2022 as hoofbeoordelaar van Strictly Come Dancing en sy Amerikaanse eweknie, Dancing with the Stars, opgetree.

Hy het in November 2022 sy aftrede aangekondig om meer tyd met sy familie deur te bring.

Sy professionele dansloopbaan het in die ouderdom van 19 begin, en hy het verskeie kompetisies, insluitend die bekende wêrelddanskampioenskap in Blackpool, Engeland, deur sy loopbaan gewen.

Hy het ook die Goodman Academy-dansskool in Dartford, Kent, gestig.

Medelye het Maandag van bekendes regoor die Verenigde Koninkryk ingestroom.

Goodman se medebeoordelaar op Strictly Come Dancing, die Italiaanse choreograaf Bruno Tonioli, het na Goodman as ʼn “legende” in ʼn plasing op Twitter verwys.

“Ek sal die herinneringe van ons avonture koester. Daar sal nooit weer iemand soos jy wees nie, jy sal altyd my perfekte 10 wees,” het Tonioli geskryf.

Bronne: The Guardian, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.