Stryd teen tyd om Notre-Dame betyds gereed te hê

(Photo by Ludovic Marin/AFP)

Werkers wat besig is met herstelwerk aan die Notre-Dame-katedraal in Parys, Frankryk, het Vrydag presies een jaar oor om dié erfenisbaken tot sy volle glorie te herstel nadat die gebou in April 2019 byna heeltemal deur ʼn brand verwoes is.

(Foto: Thibault Camus/AP)

Maroela Media het vroeër berig die pad na volledige restourasie is lank en moeisaam en die gebou sal na verwagting eers in 2024, vyf jaar ná die brand, weer in sy volle glorie kan pryk.

Die restoureerders van die gebou wat op Unesco se bewaringslys is en wat jaarliks sowat 12 miljoen toeriste lok, het die afgelope vier jaar voor verskeie uitdagings te staan gekom. Nietemin is die nuwe toringspits weer deel van die Franse hoofstad se horison, en die herstelwerk sal na verwagting betyds afgehandel wees vir die 2024 Olimpiese Spele wat in Parys aangebied word.

(Photo by Julien De Rosa/AFP)

Honderde werkers skarrel teen die horlosie om die res van die katedraal betyds te herstel sodat dit op 8 Desember 2024 weer sy deure vir die publiek kan open.

“Ons is vol vertroue en vasbeslote dat ons die sperdatum sal haal, maar dit bly ʼn dag-tot-dag-stryd,” het Philippe Jost, die amptenaar in beheer van die restourasie, verlede week aan BFM TV gesê.

Die katedraal se nuwe toring is identies aan die vorige een, ontwerp deur die 19de-eeuse argitek Eugène Viollet-le-Duc.

“Die eikehoutstruktuur sal teen die einde van die jaar sy volle hoogte van 96 m bereik. Dit sal dan met lood-ornamente bedek word voordat die steierwerk verwyder word,” het Jost gesê.

“Die struktuur bokant die skip van die katedraal en die gedeelte waar die geestelikes en die koor sit moet dan voltooi word, waarna die herstel van die dak begin kan word.”

Die laaste fase is om die binnekant – ʼn area van sowat 42 000 m² – skoon te maak en om nuwe meubels te installeer.

(Photo by Julien De Rosa/AFP)

“Al die werk is ‘reeds gefinansier’ deur altesaam $848 miljoen in skenkings van Frankryk en die buiteland,” het Jost gesê.

Die restourasieproses is maande lank vertraag deur ontsmettingspogings nadat meer as 300 ton lood van die dak in die brand gesmelt het.

Owerhede moes ook by verskeie geleenthede die werk in die eerste winter weens erge winde staak, voordat die koronavirus die land vroeg in 2020 lamgelê het.

Jost het die taak om toesig te hou oor die katedraal se herstel- en restourasieproses oorgeneem ná die dood van genl. Jean-Louis Georgelin, die voormalige Franse weermaghoof wat in beheer was van die herstelwerk. Georgelin is in Augustus tydens ʼn bergstaptog-ongeluk dood.

Jost was Georgelin se regterhand voor die ongeluk.

(Photo by Miguel Medina/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Hoe kom ‘n Suid Afrikaner in Parys, dis nou behalwe vir ons president en al sy vreetende vriende op Airforce1, as die euro teen die rand vandag R20.47 vir ‘n euro is. Vat jy jou R200000 Parys toe kry jy maar 9770 euro’s. Dit kry jou seker iewers vis en skyfies koop!

Bolandse Nooi ·

@JohanR – hoe maak jy die konneksie van ‘n SAner in Frankryk en wat het dit met die prys van eiers te doen? Of bedoel jy dat ‘n besoek aan die Notre Dame katedraal vir die gewone Suid-Afrikaner buite bereik is? Dít kan ek skaars glo, as jy gesien het hoe die Groen-en-Goud gedra is en gewapper het by die WRC onlangs (ja, ek weet – baie van daardie mense werk en woon oorsee).

Johann ·

So wat van ons kry daai span om wat oor is van die parlement te kom oor bou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.